|

Zuma weier dat ANC-hoës aan leefstyloudits onderwerp word

President Jacob Zuma het onlangs te velde getrek teen diegene wat daarop aandring dat hooggeplaastes in die ANC aan leefstyloudits onderwerp moet word, ondanks die feit dat twee ANC-ringkoppe wel daarvoor te vinde is.

Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, het in Oktober 2016 aangekondig dat dié party se nasionale uitvoerende komitee (NUK) daarop aandring dat politieke leiers en staatdienswerkers geoudit word en dat alle gevalle van korrupsie wat met leefstyl- onkostes gepaard gaan, spoedig uitgeklaar moet word.

Cyril Ramaphosa, visepresident van die ANC, het ook vroeër vandeesmaand tydens die herdenking van die dood van die SAKP-leier, Joe Slovo, ANC-leiers gekritiseer wat uitgewys is vir hul betrokkenheid by korrupte sake. Hy het ook daarop aangedring dat alle leiers van die regerende party leefstyloudits moet ondergaan.

Volgens Zuma moet ANC-leiers wat dié versoeke rig “hulself gedra” siende dat korrupsie volgens hom “nie ʼn kwessie is wat die ANC begin het nie.”

Die president het verlede Saterdag tydens ʼn provinsiale ANC-sametrek in Burgersfort, Limpopo, gesê dat ANC-leiers hulself op ʼn “ordelike manier” moet gedra en dat daar op die party se onmiddellike opdragte gefokus moet word eerder as sy leiers.

Volgens Zuma het die ANC-regering reeds talle programme in plek om korrupsie te bekamp en om goeie etiek deur die openbare sektor te bevorder. Hy het voorts gesê dat die opkomende nasionale verkiesingskonferensie vir die regerende party die geleenheid sal gee om homself te hernuwe.

“Die ANC en sy regering is die enigste organisasie wat korrupsie beveg het,” meen hy.

Volgens Cynthia Schoeman, stigter en besturende direkteur van Ethics Monitoring & Management Services, is Zuma ʼn slegte rolmodel as etiek en etiese optrede in die land ter sprake is.

Met meer as 750 klagtes van korrupsie teen hom, meen Schoeman dat Zuma se weiering om aan leefstyloudits onderwerp te word slegs meer vrae laat ontstaan oor die omvang van korrupsie binne die ANC, asook die verdeeldheid wat tans binne die party heers.

Sy het aan Forum Nuus gesê dat leefstyloudits ʼn belangrike en relevante meganisme is om die etiese gedrag van leiers vas te stel. “Enige etiese leier sal aandring op ʼn leefstyloudit. Om dit teen te staan dui op verdagte gedrag en skep die indruk dat Zuma homself bo die wet verhef.”

Volgens Armand Greyling, regs- en beleidsanalis van die sakeregtewaghond AfriSake, ondermyn die president se uitlatings die grondslag van demokrasie. Hy meen dat dit in belastingbetalers se belang is om te weet hoe, waar en deur wie hul geld spandeer word.

“Zuma se weiering is weer eens bewys van sy ystergreep en invloed in die ANC. Dit is veral ironies dat hy in die lig van die Nkandla-saga sê dat die ANC-regering korrupsie bekamp.

Soortgelyke plasings