Zuma stook vure van rassepolarisasie terwyl hy lag soos Nero viool gespeel het – AfriForum


 In ’n mooiweersverhaal oor die staatsrede het die minister van kommunikasie, me Faith Muthambi – tydens wie se ampstermyn mediavryheid in Suid-Afrika verskeie laagtepunte bereik het – vanoggend geskryf dat die staatsrede “’n viering” is, en “’n waardevolle bron van inligting bied aan diegene wat die polsslag van demokratiese Suid-Afrika wil neem”.
Vanaand het parlementariërs en veiligheidspersoneel opnuut in vuisgevegte betrokke geraak en is growwe aantygings oor verskeie grondwetvergrype, die aanwending van biologiese skarebeheermiddels, uiters kru taal en haatspraak in die parlement gehoor. Verskeie parlementslede het tereg aangevoer dat die president sy ampseed geskend het.
Die reaksie van president Jacob Zuma op dié tragiese gebeure, is vir die soveelste keer dat hy net gelag het.
Daarna het hy op onderwysprestasies geroem, terwyl derduisende kinders nog nie eens skooltoelating of handboeke het nie. Hy het gespog met ’n groei in toerisme, sonder om te meld dat die regering se ondeurdagte beleide die bedryf byna vernietig het.  Hy het verwys na die uitbetaling van maatskaplike toelae, maar nie gemeld dat die huidige stelsel finansieel onvolhoubaar is en die land na ’n fiskale afgrond dryf nie.
Om die aandag van hierdie en vele meer probleme af te lei, is wit kapitaal as sondebok opgestel en die besigheidswêreld met radikale ekonomiese transformasie gedreig.
Volgens Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, dui die gebeure van vanaand nie op die polsslag van ’n demokrasie nie, maar dié van ’n hibriede regime. Die lokus van politiek het na ’n magsterrein verskuif waar demokratiese en nie-verantwoordbaar rolspelers en prosesse met mekaar vermeng.

“Die intensifisering van sekuriteitsmaatreëls in aanloop tot die lewering van die staatsrede en die onverantwoordbaarheid van die president bewys ook die agteruitgang van die demokrasie tot hierdie hibriede staat,” het sy bygevoeg.
“Die staatsrede van 2017 en gebeure daaromheen is geen viering nie, maar ’n tragedie. In ’n tyd wat die land wysheid, leierskap en volhoubare oplossings benodig, is ons uitgelewer aan die giere van ’n regerende party onder die aanvoering van ’n president wat lag soos wat Nero volgens oorlewering viool gespeel het toe Rome gebrand het.”

Onder dié omstandighede, meen Bailey, word die rol van die burgerlike gemeenskap selfs nog meer belangrik om self eie belange te beskerm en bevorder.

Soortgelyke plasings