--> -->
Spyskaart +

Zimbabwe en Venezuela se rampe het ook met grond begin

Maart 27, 2019 deur Admin

Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum

’n Afrikaanse persoon sê onlangs vir my dat hy nie werklik omgee wat met grond gebeur nie, want dit behoort nie aan hom nie. Sulke stellings is nie net uiters onkundig en ongevoelig nie, maar dit is ook gevaarlik.

Hierdie persoon is kennelik ’n stedeling van Pretoria met ’n huis in ’n voorstad. Waarom moet hy dus omgee oor ’n boer se gebruikte of ongebruikte grond op die platteland? Of oor mense wat staatsgrond in woongebiede gryp en daar begin huis opslaan? Of oor die uitbetalings wat gemaak word aan eisers wat nie die grond ontvang nie? Wel, hy moet omgee. Indien hy nie nou sterk daaroor voel nie, sal hy dit wel later berou.

Die skokkende waarheid is dat die hedendaagse tragedies – Venezuela en Zimbabwe – se probleme albei by grond begin het. Dit het later na allerlei ander dwingelandy en treurmare uitgebrei, maar dit het alles by die skending van eiendomsregte en mislukte grondhervorming begin. Dit het uiteindelik die hele land se probleem geword omdat mense in stede soos Caracas, Harare en Bulawayo ook in toue moet wag om kos te koop, of honger ly omdat daar nie kos beskikbaar is nie. Die ANC gebruik hierdie twee rampe as ’n soort leidster en model, en spreek gereeld hul bewondering uit daarvoor. Adjunkpresident David Mabuza het juis onlangs besoek in Venezuela afgelê om hul steun vir die diktator Nicholás Maduro en sy regime te wys.

Zimbabwe

Grond was ’n knelpunt in Zimbabwe reeds voordat Robert Mugabe in 1980 president geword het. “Land was a pressing issue,” skryf die historikus Martin Meredith in The State of Africa. Die oorgang van ’n wit minderheidsregering na ’n swart meerderheidsregering het egter met die voorwaarde van “gewillige koper en gewillige verkoper” gepaard gegaan. Mugabe het langtand by Lancaster House ingestem om vir tien jaar nie te onteien nie.

In 1990, skryf Paul Kenyon in sy boek Dictatorland: The men who stole Africa, het Mugabe egter dié kwessie viervoet op die verkiesingsagenda geplaas: “It makes absolute nonsense of our history as an African country that most of our arable and ranching land is still in the hands of our erstwhile colonisers.”

Mugabe, nie gepla deur internasionale menings nie, was van plan om 13 miljoen hektaar te verkry – die helfte van die witbeheerde plaasgrond. Die regering het reeds toegang gehad tot ’n halfmiljoen akker wat dit nie herversprei het nie.

Plase is wel oorgedra, maar die nuwe eienaars het geen vaardighede of gewilligheid om te leer gehad nie. “They wanted trophy properties, and let them fall into disrepair, rearing up irrigation pipes to sell the lead, abandoning farm machinery, allowing the fields to wilderness,” skryf Kenyon. “Mugabe, with his degree in economics, knew that rendering fertile farmland unproductive made no economic sense, but this wasn’t about that; it was about rewarding the loyal, and punishing the old enemy.”

Hy het later begin om grond aan sogenaamde “oorlogsveterane” uit te deel. “We aregoing to take the land, and we are not going to pay a cent to any soul,” het hy rondborstig verklaar. Die Zimbabwiese parlement was ekstaties.

Hier is te min ruimte om te vertel van wat alles toe skeefgeloop het, maar Zimbabwe is ’n handboekgeval van hoe grondhervorming en -grype tot ’n totale kreeftegang gelei het. Hiperinflasie, voedseltekorte, ’n polisiestaat, internasionale isolasie, onbekostigbare brandstof, nypende armoede en ’n totale verlies aan kundigheid weens emigrasie is slegs etlike van die onlangse of huidige kenmerke van Zimbabwe. Al het Mugabe en sy kornuite grond “verniet” gegryp, het die hele Zimbabwe (en veral gewone mense) uiteindelik die prys daarvoor betaal.

Venezuela

Daar is min nie-oorloggeteisterde lande wat deesdae so baie in die nuus is soos Venezuela. Soos Zimbabwe, het dinge oor die laaste 20 jaar daar skrikwekkend skeef geloop. Dit kan regstreeks teruggelei word na ’n sosialistiese diktator en regering wat grond wou gryp en dit aan voorheen benadeeldes sou teruggee. Maar nes in Zimbabwe se geval, is die grond nooit aan “die mense” teruggegee nie: Dit was een groot korrupte spul om die bewindhebbers te bevoordeel en lojaliste te vergoed.

Venezuela was nog teen die middel-80’s die rykste land in Latyns-Amerika. Hugo Chavez het in 1999 die grondwet gewysig om te verklaar dat die bestaan van groot ongebruikte landgoedere (latifundio’s) strydig met die belange van die samelewing is. Let wel, die president het besluit wat die belange van die “samelewing” (hoe ook al gedefinieer) moet wees – en in wese die staat en samelewing aan mekaar gelykgestel.

Grondgrype is ook aangemoedig; produktiewe grond is ook in onproduktiewe grond omskep sodat dit gevat kon word. Geen titelaktes is aan nuwe boere toegeken nie, ondanks beloftes dat dit gedoen sou word. Hulle het grond slegs op ’n tentatiewe grondslag gekry en dit kon enige tyd weer teruggetrek word.

Grond is ook nie aan verdienstelike mense gegee om sodoende te boer nie en landbou-produksie het aansienlik afgeneem. Michael Albertus skryf soos volg hieroor in Foreign Policy: “This helped generate a set of politically reliable clients, who were favoured through land grants, and who then helped the regime perpetuate itself in power by voting for it in elections.”

Teen die middel-2010’s het mense – à la Zimbabwe – in toue gestaan net om kos en ander noodsaaklikhede in die hande te kry. 80% van Venezuela se mense is verstedelik en het dus nie ’n begeerte om te boer nie, maar kan ook nie die daaglikse benodigdhede van ’n stedelike bestaan maklik bekom nie.

Daar is bereken dat die hiperinflasie in Venezuela 80 000% in 2018 beloop het. Jy weet letterlik nie wat jy van die een minuut tot die volgende vir enigiets betaal nie.

Suid-Afrika en AfriForum

Hoewel Suid-Afrika nie naastenby op die vlak van hierdie lande is nie, kan ons as die burgery nie op ons louere rus nie omdat daar wesenlike gevare in ons midde is. Indien ons regering sê dit gaan grond onteien sonder vergoeding, moet daar ’n element van erns en waarheid daarin wees, of hoe? Mugabe is ook nie oral ernstig opgeneem nie en ons weet hoe dit verloop het. En as hulle grond kan vat, waarom dan nie ook ander eiendom (selfs wettiglik) vat nie? Of ander soorte onderdrukking pleeg nie? Dis wat in Venezuela en Zimbabwe gebeur het en dit kan geensins as ’n moontlikheid in Suid-Afrika uitgeskakel word nie. Ons ekonomie is reeds pap, brandstofpryse styg, die rand is swak en beleggers is tans uiters skoorvoetend vir pres. Cyril Ramaphosa se leë beloftes. 

Die verskil sover tussen Venezuela en Zimbabwe enersyds en Suid-Afrika andersyds is dat eersgenoemdes nie ’n AfriForum gehad het nie. Die Zimbabwiese boer Ben Freeth het dit al telkens onomwonde erken. In Zimbabwe was die opposisiepartye van meet af aan ontman en gekul, en die boere-unies het te laat wakker geskrik. In Venezuela is die opposisie grootliks verdeeld en papperig en kon nie werklik verenigde weerstand bied nie.

AfriForum het onlangs begin om ’n grondeis in Centurion teen te staan wat 2 000 gesinne en ’n klomp ondernemings raak. Die regering en die eisers wil ’n bedrieglike eis, wat op diefstal neerkom, sonder fanfare deurdruk. Uiteindelik is dit ’n korrupte spul waar staatsamptenare saam met die eisers span om die uitbetalings (kompensasie) van miljarde rande te deel (en waarvoor die belastingbetaler moet opdok). Grond, huise, belastinggeld, kernbeginsels en selfs die stabiliteit van die land en sy gemeenskappe is op die spel in hierdie geveg. As jy gedink het so iets raak jou nie, het ek jou nou hopelik oortuig dat dit in ons almal se belang is dat sulke eise en grondgrype nie geduld word nie.