--> -->
Spyskaart +

Zille-twietdebakel: Die tirannie van politieke korrektheid knou oop gesprek

Maart 29, 2017 deur Natasha Venter

Die ANC het meesterlik daarin geslaag om sy eie ideologiese uitgangspunte, terminologie en weergawe van die geskiedenis te verhef tot heilige koeie wat niemand durf bevraagteken nie. Sou jy dit waag om selfs op die mees genuanseerde wyse denkbaar in ʼn kritiese gesprek oor byvoorbeeld die ANC se transformasiebeleid of weergawe van die geskiedenis betrokke te raak, word jou argumente geïgnoreer en word jy doodeenvoudig as ʼn rassis of voorstander van kolonialisme of apartheid uitgekryt. Hierdie tirannie van politieke korrektheid en onverdraagsaamheid teenoor enige standpunt wat verskil van die ideologiese uitgangspunte van die heersende orde en politieke elite, hou ʼn ernstige bedreiging vir oop gesprekvoering en demokratiese debatvoering in.

Hoe ernstig oop gesprekvoering bedreig word, is pas weer bewys deur die histeriese reaksie op Helen Zille se nou berugte twiet oor kolonialisme. Die heftige reaksie vanuit die ANC- en EFF-geledere – asook van die paar oorblywende linkse Afrikaanse kommentators – was te wagte, aangesien hulle bekend is vir hul onverdraagsaamheid jeens enige standpunt wat van hul eie afwyk en die heersende ideologie bevraagteken. Wat mens nie sou verwag nie is dat die heftigste kritiek op Zille afkomstig sou wees van haar eie party, die DA, se leierskap. Dit is veral kommerwekkend, aangesien dit ʼn aanduiding daarvan is dat die ANC nou ook daarin geslaag het om selfs sy “opponente” in so ʼn mate in die ANC se ideologiese uitgangspunte te laat inkoop, dat selfs opposisieleiers dit nou beskerm. Die DA-leierskap is skynbaar bereid om sy eie beleid van ʼn “oop samelewing” (wat ʼn vrye vloei van standpunte en idees veronderstel) te offer op die altare van korttermynposisionering en stemwerwing.

Anders as wat die verdedigers van politieke korrektheid probeer aanvoer, het Zille nooit kolonialisme in haar twiet verdedig nie. Haar verwysing daarna dat die nalatenskap van kolonialisme nie net sleg was nie, toon immers dat sy aan die negatiewe gevolge van kolonialisme erkenning gee. Haar doodsonde was dat sy dit durf waag het om te verwys na die feit dat tegnologie en infrastruktuurontwikkeling saam met kolonialisme die land binnegekom het. Dit is skynbaar vir die DA, ANC en EFF se leierskap in orde dat parlementsittings in ʼn gebou afkomstig uit die koloniale era gehou word en dat die uitvoerende gesag vanuit nog ʼn koloniale gebou – die Uniegebou – funksioneer, solank daar net nie erken word dat hierdie infrastruktuur uit die koloniale era dateer nie. Om iets te gebruik sonder om erkenning te gee aan die bron daarvan, is plagiaat.

My siening, dat ons op genuanseerde wyse moet erken dat infrastruktuurontwikkeling tydens die koloniale era plaasgevind het, gaan natuurlik tot gevolg hê dat ek ook daarvan beskuldig sal word dat ek kolonialisme probeer regverdig. So ʼn beskuldiging sal egter geen geloofwaardigheid hê nie, aangesien ek as Afrikaner meer as genoeg redes het om Britse kolonialisme te verafsku. Afrikaners het erg gely onder Britse kolonialisme. Afrikaners is nie net deur kolonialisme van hul politieke vryheid ontneem nie, maar meer as 30 000 Afrikanervroue en -kinders het ook in konsentrasiekampe gesterf tydens Afrikaners se stryd teen kolonialisme. Afrikaners was immers ook van Afrika se eerste vryheidsvegters teen kolonialisme. Ten spyte van my afkeur aan kolonialisme, sou dit oneerlik wees om te maak asof geen infrastruktuurontwikkeling tydens die koloniale era plaasgevind het nie.

Die kommerwekkendste deel van die kritiek op Zille is egter dat dit gedryf word deur die narratief dat wit mense verantwoordelik is vir alles wat skeefgeloop het en steeds skeefloop in die land. Sou ʼn mens erken die koloniale era het enige vorm van ontwikkeling teweeg gebring, sou dit dus ʼn erkenning wees dat wit mense wel, ten spyte van foute wat hulle begaan het, ʼn positiewe bydrae gelewer het tot die land se ontwikkeling. Die DA-leierskap moet dus versigtig wees dat hulle nie met hul kritiek teen Zille meedoen aan die ANC en EFF se poging om wit mense, Afrikaanssprekendes en Afrikaners te kriminaliseer en verminder tot tweederangse burgers nie. President Zuma het reeds minderhede gekriminaliseer deur valslik aan te voer dat al die land se probleme begin het met die aankoms van Jan van Riebeeck (so asof daar nie geweld tussen groepe was vóór Van Riebeeck se aankoms nie), terwyl die EFF dieselfde narratief verkondig. Sou die DA dieselfde narratief wil verkondig en ʼn oop debat daaroor verhoed, moet hulle dit nou teenoor hul kiesers vanuit minderheidsgemeenskappe erken.

Om te vra dat minderhede se bydrae om die land te help ontwikkel, erken moet word, sal natuurlik ook deur die verdedigers van politieke korrektheid voorgehou word as ʼn poging om kolonialisme te regverdig. Allermins: Natuurlik het minderhede in dié land, soos byna alle groepe in die wêreld, ernstige foute begaan. Ek weier egter om myself en die gemeenskap waarvan ek deel is, te laat onderwerp aan die narratief dat hulle inherent boos is en in teenstelling met die “foutlose” ANC staan. Hoe hard die politiek-korrektes hieroor op en af mag spring, moet diegene wat oop gesprek voorstaan, nie bang wees om aan te voer dat die geskiedenis nie so eenvoudig is as wat die heersende narratief dit wil voorhou nie. Om byvoorbeeld aan te dui dat die ANC se alternatief tot apartheid tydens die Koue Oorlog die onderdrukkende stelsel van kommunisme was – ʼn stelsel wat tot die dood van sowat 100 miljoen mense wêreldwyd gelei het – of dat daar tydens apartheid en kolonialisme infrastruktuurontwikkeling was, is op geen wyse ʼn poging om die skending van mense se waardigheid in dié eras te ontken óf te regverdig nie.

Natuurlik kan daar begrip wees vir die siening van sommige dat, hoewel Zille se twiet nie feitlik verkeerd was nie, dit wel onnadenkend was gegewe die huidige politieke klimaat. Die blote feit dat hierdie stelling geldig is, is ʼn aanduiding van hoe erg die oorheersing van politieke korrektheid en die anti-wit sentiment reeds oop gesprek in die land kniehalter. ʼn Mens mag nou selfs nie iets sê wat feitlik korrek is nie uit vrees vir jaghonde wat daarop uit is om enigiemand agterna te sit wat dit sou durf waag om ʼn alternatiewe siening as dié van die heersende orde te hê.

Afrikaners, Afrikaansprekendes en minderhede oor die algemeen – asook alle voorstanders van oop gesprekvoering – staan dus voor ʼn nuwe uitdaging om hulself nie deur die verdedigers van politieke korrektheid en anti-wit aktiviste te laat intimideer nie. Daar sal hard gewerk moet word om opnuut ʼn oop gesprek te help vestig. Dit is nou belangriker as ooit tevore dat alternatiewe stemme, wat die heersende orde uitdaag, duideliker gehoor moet word. Hierdie alternatiewe stemme kan weens die heersende rassistiese anti-wit sentiment en die onreg teenoor minderhede wat tans plaasvind, met gemak vanuit die morele gesagsposisie tot die debat toetree en moet waaksaam wees om hulself nie te wend tot dieselfde soort oppervlakkige en onverdraagsame gesprekstyl waartoe die polities korrektes en anti-wit aktiviste hulself op die oomblik wend nie.

My beroep op minderhede is om die toekoms met selfvertroue aan te pak, wedersydse erkenning en respek tussen gemeenskappe te bevorder en nie toe te laat dat verdedigers van politieke korrektheid en anti-wit rassiste hulle tot stilswye dwing nie!