Zeerust-tak skenk heining in samewerking met plaaslike ondernemings


AfriForum se Zeerust-tak het op 29 Januarie 2019 in samewerking met plaaslike ondernemings ’n heining aan die Uitkoms-woonstelle in Zeerust geskenk. Alle inwoners van dié woonstelle is ouer as 65 jaar en die meeste is van hul kinders en kleinkinders afhanklik.

Dié weerlose inwoners loop gedurig onder misdaad deur en die plaaslike buurtwag word dikwels na die perseel ontbied. Motorbatterye en tuingereedskap en -meubels word gereeld gesteel en die inwoners is bekommerd oor hul veiligheid. Die bestuur van AfriForum se Zeerust-tak het daarom besluit om ’n heining rondom die woonstelle op te rig om op hierdie manier hoop vir die inwoners en hul geliefdes te skep.

“Dit is vir ons baie belangrik om na ons pensioenarisse en bejaardes om te sien wat al so baie vir ons gemeenskappe gedoen het en steeds doen,” sê Sampie Steinberg, assistentkoördineerder vir Marico.
“Die inwoners se gesigte het van geluk en dankbaarheid gestraal toe hulle die heining sien,” sê Madelein van der Walt, wat op die bestuur van die Zeerust-tak dien.

Die Zeerust-tak wil graag Arrie Groenewald van Marico Omheinings bedank. Hy het die pale opgerig en die heiningdraad gespan. Die tak wil ook vir André en Santa Ward van André Elektries bedank vir die skenking van sand en klip, en Basson en Grobler vir die aflewerings en geduld met al die kwotasies.

Soortgelyke plasings