|

Ystergreep op openbare universiteite voorspel niks goed

Openbare universiteite in Suid-Afrika is as’t ware in ’n staat van gyselaarskap.

Die aard en wese van dié instellings is besig om teen ’n astronomiese tempo te verander met gepaardgaande kommer oor kwessies rondom die handhawing van standaarde, gehalte-kwalifikasies en Afrikaans as onderrigmedium.

Verskeie kundiges het vandeesweek aan ’n konferensie van die FAK deelgeneem waar die tema: Universiteitswese, transformasie en dekolonialisasie: wat kan ons verwag? bespreek is.

Die sprekers was proff. Fika van Rensburg, rektor van die NWU-Potchefstroomkampus, Danie Goosen, verbonde aan Unisa en voorsitter van die FAK-direksie, Pieter Duvenhage van Kovsies, adv. Jan Heunis, lid van die Gelyke Kanse-veldtog wat veg vir die behoud van Afrikaans by die Universiteit van Stellenbosch en Willie Spies, regsverteenwoordiger van AfriForum.

Van Rensburg het gesê daar kan tereg gevra word of universiteite nog ordelike, akademies vrye en volhoubare instellings is.

Hy het gesê die staat het ’n al groter greep op universiteite en instellings is onder enorme druk oor die realiteit van arm studente en ’n finansieringsmodel wat uitdagings bied.

Volgens Van Rensburg verhoog klasgelde deurlopend ondanks eise vir gratis onderrig. Instellings se begrotings bestaan tans uit 31% klasgelde, 40% staatsubsidie en 29% uit derdestroom-inkomste.

In die lig van dié dilemma is onlangs voorstelle aan die ministeriële kommissie gemaak om ’n middele-toets te gebruik sodat Nsfas-gelde op ’n glyskaal vir alle behoeftige studente toegeken word. Lenings aan studente moet ook deur SARS geadministreer word aangesien terugbetalings van Nsfas minder as 2% is.

Van Rensburg het gewaarsku dat dekolonialisasie tot massifikasie lei waar universiteite staatsinstellings word wat deur kaderontplooiing gekenmerk word. Dít lei weer tot swak gehalte, lae standaarde en internasionale miskenning.

Van Rensburg het gesê Afrikaans as onderrigmedium moet as nasionale bate bestempel word en daar moet in ag geneem word hoeveel kandidate met vrystelling en goeie prestasie in sleutelvakke soos wiskunde, wetenskap en rekeningkunde uit Afrikaanse skole kom.

Oor die behoud en uitbou van Afrikaans, het hy gesê die antwoord lê nie in die uitvee van die geskiedenis nie. Hy meen die oplossing lê in die toepassing van beginsels soos interkulturaliteit ( waar die eie nie ter wille van ander prysgegee word nie), veeltaligheid (waar ander inheemse tale ook akademies ontwikkel word) en onderrig gegrond op waardegedrewenheid, integriteit en beginselvastheid. “Leierskap by universiteite is belangrik en toegewings moenie gemaak word om vrede te handhaaf nie.”

Heunis het gewys op grondwetlike beginsels en artikels wat Afrikaans beskerm en die staat verplig om die status van ander inheemse tale te verhoog. “Alle tale moet billik en gelyk behandel word. As dit nie gebeur nie, moet ons vra wat van die ondernemings in die grondwet en die waarde van moedertaalonderrig geword het.

“Om op Afrikaans en ander inheemse tale aan te dring, is in pas met internasionale eise. Omdat die regerings en staatsorganisasies en die burgerlike samelewing nie taalregte opeis nie, beteken nie dat die tale maar tot niet kan gaan nie.”

Heunis het beklemtoon dat die volhoubaarheid van Afrikaans nie die verantwoordelikheid van net een universiteit is nie.

Hy het ook verwys na die optrede en aandrang van studente by instellings en het gevra waar dinge sal eindig as universiteite toelaat dat hulle deur misdadige optrede afgedreig word. Hy het gesê meer moet vir tale gedoen word en nie minder nie. “Is veeltaligheid dan nie eerder ’n geleentheid as ’n las om Afrikaans af te skaf nie?”

Heunis het voorts gesê in die lig van die huidige krisis moet gevra word of Afrikaanse mense nog veggees het, of daar nog baanbrekers onder hulle is wat in die basiese regte van alle mense glo en of daar helde onder hulle is wat gaan opstaan vir wat reg is.

Spies het oor verwikkelinge by die Universiteit van Pretoria (UP) gepraat en gesê die instelling het in 20 jaar meer geleenthede vir almal in die land geskep en sy studentegetalle met 73% vergroot. “Die universiteit het homself verdubbel en meer swart graduandi as enige ander universiteit opgelewer.”

Die universiteitsbestuur het egter misluk deur radikale toegewings aan studente te maak. Hy het ook misluk deur nie die geleentheid te gebruik nie om opnuut oor taal, toegang en toelating te besin na die historiese skikking tussen die ANC in Gauteng en Solidariteit bereik is tydens die onlangs krisis by die universiteit. Nou het die UP Engels as primêre taal aanvaar, terwyl talle kommerwekkende voorstelle rondom kurrikulumverandering en transformasie ook nog op die tafel is.

Spies se voorstel in antwoord op die universiteitskrisis is dat Afrikaanssprekendes moet voortgaan om op kampusse te organiseer om hul stem te laat hoor. Waar nodig moet met litigasie voortgegaan word, terwyl daar ook volstoom voortgegaan word om aan selfstandigheid te bou.

Soortgelyke plasings