|

Wreedste jaar nog vir boere en hul werkers

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

Die burgerregte-organisasie AfriForum en die TLU SA het vandag die jongste statistieke vir plaasaanvalle en-moorde in Suid-Afrika bekendgestel.

Volgens die organisasies was verlede jaar die wreedste jaar nóg vir Suid-Afrikaanse boere en plaaswerkers. Die meeste plaasaanvalle sedert 1990 is in 2015 aangeteken.

Die afgelope jaar se syfers is verwerk en geverifieer in ’n navorsingsanalise om die mees akkurate weerspieëling te bied van die aard en omvang van plaasaanvalle in Suid-Afrika. Hierdie analise is deur die AfriForum Navorsingsinstituut (ANI), onder leiding van Lorraine Claasen, navorser by AfriForum, opgestel. Statistiek is gedurende 2015 deur  AfriForum en TLU SA ingesamel en deurlopend vergelyk.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê dat hoewel AfriForum ’n burgerregte en nie ’n landbou-organisasie is nie, is die prioritisering van plaasmoorde ’n veldtog wat baie na aan AfriForum-lede se harte lê. “Ons is betrokke by die stryd teen plaasmoorde omdat ons lede baie sterk oor die saak voel en ook omdat dit ’n burgerregte kwessie is wat aangepak moet word.”

Henk van de Graaf, assistent hoofbestuurder van TLU SA, het ’n oorsig gegee van geweldsmisdade op plase in die land. Hy het verduidelik dat TLU SA die data direk van plaasgemeenskappe, AfriForum, asook die media kry. “Die syfers is min omdat ons slegs geverifieerde data gebruik. Dit is belangrik om in ag te neem dat baie plaasaanvalle nie eens opgeteken word nie.”

Die analise het getoon dat daar in 2015 altesame 318 plaasaanvalle was waartydens 64 boere en werkers dood is. Hoewel daar in 2010 ook 64 moorde gepleeg is, is daar sedert 2011 (waarin 48 moorde gepleeg is) weer ’n geleidelike toename in plaasmoorde.

In die 318 plaasaanvalle in 2015 was daar in totaal 570 boere, hul gesinslede, werkers en kuiergaste slagoffers. In 40 gevalle was 65 plaaswerkers direkte slagoffers. Hoewel verskeie gesinne met klein kinders en babas ook aangeval is, blyk dit dat ouer persone maklikler geteiken word.

Die provinsies met die meeste plaasaanvalle in 2015 was Limpopo met 20,2%, Mpumalanga met 19,3% en die Vrystaat met 18%. Die analise het ook getoon dat Oktober, November en Desember die maande is waarin die meeste aanvalle plaasvind. Daar is dus ’n algemene toename in plaasaanvalle nader aan die feesseisoen.

Van de Graaf het voorts gesê dat Januarie 2016 nie  voorspoedig begin het nie met ’n totaal van 26 plaasaanvalle en 6 moorde wat aangeteken is.

Van de Graaf en Roets het albei die stelling van die waarnemende polisiekommissaris, lt.genl. Khomotso Phahlane, naamlik dat plaasmoorde groter prioriteit moet geniet, verwelkom. Die organisasies wil graag in die verband met die polisie saamwerk.

“Die erkenning dat iets aan die krisis gedoen moet word, beteken egter nog nie dat die krisis opgelos is nie,” meen Roets.

Hy het ook verduidelik dat dit ’n unieke misdaad is wat ’n unieke strategie vereis. “Samewerking, ’n politieke wil asook ’n konstruktiewe atmosfeer is nodig om plaasmoorde te beveg. Ons verkies om saam met die regering te werk om hierdie probleem te probeer oplos, terwyl ons ook proaktief gaan optree om gemeenskappe te help.”

Claasen het die publiek aangemoedig om enige inligting oor plaasaanvalle onder AfriForum se aandag te bring deur ’n epos te stuur na stopdiemoorde@afriforum.co.za.

“Elke boer wat vermoor word verteenwoordig ’n gesin, werkers en gemeenskap. Die toename in aanvalle en moorde is onaanvaarbaar en ons werk op verskeie terreine om landelike veiligheid te bevorder, asook druk te plaas op die regering om ’n daadwerklike vermindering van die aanvalle teweeg te bring,” het Roets gesê.

Soortgelyke plasings