|

Wrede plaasmoordenaars kry lewenslange tronkstraf

Deur: Mariska Batt

Papiki Mokwena (22) en Eric Mtombeni (23) gaan lewenslank agter tralies sit vir die wrede ystermoord op Sarel Janse van Rensburg (75), ʼn boer van die Tonteldoos-omgewing in Mpumalanga.

Mokwena en Mtombeni is vandag in die hooggeregshof in Middelburg deur waarnemende regter Andries Lambrechts tot lewenslange tronkstraf gevonnis. Hulle het ook 15 jaar tronkstraf gekry vir roof met verswarende omstandighede, drie jaar vir die onwettige besit van ʼn vuurwapen en 18 maande vir die onwettige besit van ammunisie.

Mokwena en Mtombeni het Janse van Rensburg op 18 September 2014 op die plaas Froggy Pond naby Tonteldoos, sowat 25 km vanaf Dullstroom, vermoor.  Hy is gemartel en met ʼn ysterpyp doodgeslaan. Die mans is enkele ure na die moord met behulp van plaaswerkers, boere in die omgewing en polisiebeamptes wat vinnig op die toneel was, vasgetrek.

“Ons is bly oor die vonnis, maar ook bekommerd omdat hulle geen berou toon nie. Hulle het soveel woede en haat in hul harte, dat ek nie kan sien hoe hulle gerehabiliteer kan word nie. Hulle het ons tydens die verhoor aangegluur en nie een oomblik jammer gelyk nie. Ek is bang dat hulle na 25 jaar uit die tronk gaan kom en net weer moor,” het Claudine van Wyk (43), Janse van Rensburg se dogter, gesê.

Van Wyk het ook gesê dat Mokwena tydens die verhoor gedurig omgedraai en vir hulle gegrom het en dat sy die “absolute haat” in sy oë kon sien.

Van Wyk het verder gesê dat die hofverrigtinge baie traumaties en emosioneel was.

“Dit was erg om in die hof te sit en luister hoe my pa vermink, gemartel en vermoor is. Sy kop was papgeslaan en sy elmboë stukkend soos hy die houe probeer afweer het.”

Janse van Rensburg se dood was egter nie die begin van die familie se trauma nie. Hul hartseer het drie jaar voor sy dood begin toe Janse van Rensburg se broer, Johan (77) en skoonsuster Gloudien (62), is in Junie 2012 op hul plaas naby Baltimore vermoor is nadat hulle deur sewe aanvallers oorval is. Slegs drie van die aanvallers is in hegtenis geneem en dien tans ʼn vonnis van 70 jaar tronkstraf uit.

“Ons is moeg. Dit is uitmergelend. Ons familie is fisies, emosioneel en geestelik uitgeput. Ons wil nou rus,” het Van Wyk gesê.

Lorraine Claasen, ʼn navorser en kriminoloog by AfriForum, is nou by die Janse van Rensburg-saak betrokke en het gesê dat AfriForum tevrede is met die vonnisoplegging wat Mtombeni en Mokwena ontvang het.

“Ons sal graag wil sien dat ander plaasmoordsake met dieselfde erns hanteer word. Ons hoop ook dat die stof nie net sal gaan lê nie, maar dat die erns van hul dade ook in ag geneem sal word wanneer hulle in aanmerking kom vir parool, wat eers oor 25 jaar sal wees vanweë die bykomende vonnisopleggings.”

Janse van Rensburg se saak vorm deel van ʼn studie oor plaasmoorde waaroor Claasen vir die afgelope jaar navorsing doen. ʼn Boek, wat verskeie gevalle studies oor plaasmoorde bevat, sal later deur AfriForum bekend gestel word.

 

Soortgelyke plasings