|

Word vandag deel van een van die grootste sakenetwerke in die land

Ons het ’n punt bereik waar besighede mekaar nie as mededingers moet sien nie, maar eerder as vennote wat saam aan ’n ondersteuningsnetwerk bou. ’n Netwerk is beter as om alleen te werk.

Só sê Sanderien van der Walt, bestuurder van AfriVriendelik en die AfriForum Netwerk, wat vandeesweek ’n mylpaal bereik het en nou 10 000 besighede sterk is. “Dit is regtig lekker om te weet dat ons een van die grootste sakenetwerke in Suid-Afrika is en dat mense hulle vertroue in ons plaas.”

Die AfriForum Netwerk is ’n aanlyndatabasis van ondernemings wat in Afrikaans dienste en produkte lewer en dit word deurlopend uitgebou.

Weens die impak van die Covid-19-pandemie sukkel veral eienaars van kleinsakeondernemings om kop bo water te hou. AfriForum Netwerk en AfriVriendelik dien dus as ’n gemeenskap van besighede en besigheidspersone wat mekaar ondersteun en aanmoedig in hierdie onsekere tye.

Benewens die netwerk bied AfriVriendelik se webtuiste ook artikels wat fokus op arbeids-, finansiële en regsvrae asook die geleentheid om met ’n paneel raadgewers en kenners op dié gebiede te kommunikeer. Daar is ook ’n lys wat aandui watter ondernemings op die AfriForum Netwerk tans noodsaaklike produkte en dienste lewer (kliek hier).

Volgens Van der Walt fokus AfriVriendelik ook daarop om nie net nóú nie, maar veral ná die tyd van inperking vir ondernemings netwerk- en bemarkingsgeleenthede te skep om hulle te help om te herstel na die krisistyd.

Sy het ook benadruk dat AfriVriendelik weer, wanneer dit toelaatbaar is, fisiese netwerkgeleenthede soos sakeontbyte, opleidingsessies, sosialemediabemarking, en entrepreneurskompetisies sal aanbied. “Ons sien gereeld hoe mense wat by ons netwerkgeleenthede was mekaar se dienste gebruik of hulle weer verwys na iemand wat hulle deur die netwerk ontmoet het. Dít is wat ons by ons lede wil aanmoedig – om die netwerk te ondersteun. Dit is julle wat ons sterk maak.”

“Noudat die regering openlik weier om Covid-hulp aan sogenaamde ‘wit’ besighede te bied, kan ek en jy hierdie diskriminasie teenwerk deur dié besighede met ons koopkrag te ondersteun,” sê Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum.

“As die regering ons nie wil help nie, sal ons onsself en mekaar help. Daar is krag in ’n gemeenskap wat saamstaan en saamwerk. Ek doen ‘n beroep op al AfriForum se ondersteuners om www.afriforumnetwerk.co.za te besoek. Besigheidseienaars kan hulle besighede registreer en verbruikers kan soek na besighede in hulle gemeenskappe wat hulle kan ondersteun.”

Alle besigheidseienaars, entrepreneurs, kleinsakeondernemings, winkelbestuurders en selfs verbruikers kan ’n e-pos na afrivriendelik@afriforum.co.za stuur om ’n besigheid GRATIS op hierdie gids te laat lys.

Soortgelyke plasings