Witrivier-buurtwag hou massapatrollie


AfriForum se Witrivier-buurtwag het op 14 Julie 2017 ’n massapatrollie in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en Full Circle Sekuriteit gehou.

“Geen ernstige voorvalle van misdaad is aangemeld nie, maar die doel van die patrollie was om sigbaarheid in die area te verhoog. Volgens statistiek is daar die afgelope tyd ’n toename in inbrake by huise en plase in die gebied. Patrolleerders het ook gepoog om dwelmhandelaars en -gebruikers te identifiseer,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mpumalanga-Oos.

Die patrollie het om 20:00 met ’n inligtingsessie by die Witrivier-polisiestasie begin waartydens die operasionele plan aan al die betrokke partye verduidelik is. Die buurtwaglede het tot 3:00 die strate van Witrivier gepatrolleer. Sestien voertuie het altesaam 1 318 km afgelê en elke lid het meer as sewe ure vir die gemeenskap se veiligheid opgeoffer.

“Goeie samewerking en kommunikasie tussen die plaaslike polisie en ander veiligheidsrolspelers is belangrik en het tot die sukses van die massapatrollie gelei,” sê Johan Pelser, voorsitter van die veiligheidsportefeulje van AfriForum se Witrivier-tak.

Raak by jou plaaslike AfriForum-tak betrokke: SMS “Witrivier” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings