--> -->
Spyskaart +

“Wit vrou kan nie Wimpy of kroeg hê nie,” sê Umdoni Munisipaliteit

April 1, 2014 deur Esmarie Prinsloo

AfriForum het betroubaar verneem dat ‘n senior lid van die Umdoni Raad tydens ʼn vergadering om ʼn geskikte huurder vir ʼn strandfrontperseel te kry, gesê het dat die “kroeg nie na die wit vrou toe kan gaan nie”.

Mnr. Xolani Luthuli, die munisipale bestuurder by Umdoni, is op 4 Oktober 2013 per e-pos in kennis gestel dat mnr. Zuma van Tholakele Maintenance & Renovations Services CC sy aanbod vir ʼn huurooreenkoms ten opsigte van die Scottburgh Beach Pavilion om finansiële redes terugtrek. Hy wou ʼn Keg Pub and Grill daar oprig. In die Finansiële en Adminkomiteevergadering is daar ooreengekom dat die amptenare die tenderdokumente sou raadpleeg vir ʼn geskikte plaasvervanger.

“Toe die Umdoni-bestuur besef dat die volgende voorkeuraanbod vir die perseel mev. Cooky Myburgh was, is die Raad in kennis gestel dat die perseel nie aan ʼn wit vrou verhuur kan word nie. AfriForum was nie verras om te verneem dat mnr. Zuma die munisipale bestuurder kort na die vergadering ingelig het dat hy fondse verkry het en dat hy nou die huurooreenkoms sou onderteken nie,” sê Chris Fourie, gemeenskapsorganiseerder vir AfriForum in KwaZulu-Natal.

Fourie het gesê dat Tholakele Maintenance & Renovations Services die perseel aan ʼn derde party onderverhuur het. Die derde party het ʼn franchise-ooreenkoms met Famous Brands om ʼn Keg in Scottburgh Beach Pavilion te open. Mnr. Zuma kon self nie die nodige fondse bekom om die huurooreenkoms met die Umdoni Munisipaliteit na te kom nie. Die tenderdokumente het dit ook duidelik uitgespel dat onderverhuring nie toelaatbaar is nie.

Mev. Myburgh se maatskappy, Faurco Investments CC, het die kontrak gekry om die Wimpy in die Scottburgh Beach Pavilion te bedryf en sy het rondom 20 Desember 2013 die ooreenkoms met die Umdoni Munisipaliteit aangegaan. Ingevolge die ooreenkoms moes mev. Myburgh ‘n langtermynfranchise-ooreenkoms met Famous Brands aangaan.

“Famous Brands wou aanvanklik nie ʼn franchise-ooreenkoms met Faurco Investments aangaan nie. Dit het mev. Myburgh 6 maande geneem om Famous Brands te oortuig om aan haar ʼn franchise toe te ken wat sy reeds vir meer as 25 jaar het,” het Fourie bygevoeg.

In die Raadsvergadering in Maart 2013 is daar gesê dat Faurco Investments CC nie ʼn franchise-ooreenkoms verkry het nie en dat mev. Myburgh kennis gekry het om die perseel te ontruim.

“Dit is duidelik dat die munisipaliteit die wit huurder uit die Beachfront Pavilion wil hê. ʼn Ander huurder, Umsawakho PK Trading (die roomyswinkel) is 3 maande agterstallig met huur, Tholakele Maintenance & Renovations Services se Keg is steeds nie opgerig soos wat die tenderdokument vereis nie en geen uitsettingsbevel is op hulle beteken nie.”

AfriForum het die Umdoni Munisipaliteit versoek om redes te verskaf waarom geen optrede teen die ander twee huurders onderneem is nie. Inwoners wat by hulle plaaslike AfriForum-tak wil aansluit of ʼn tak in hulle omgewing wil vestig, kan die naam van hulle dorp na 45267 SMS. 50c/SMS.