|

Wildvanger erg verniel in een van drie wrede plaasaanvalle sedert Vrydag

Capture.JPG 20

’n Wildvanger en sy vriendin is Saterdagoggend helder oordag wreed aangeval by ’n lodge in die Beestekraal/Brits-omgewing.

Eddie Kritzinger (44) en Audrey van der Merwe (50) is omstreeks 10:00 by hul huis oorval waar sy wasgoed opgehang het en Eddie die boorgatpomp in ’n buitekamer gaan aanskakel het.

Hennie Klopper, eienaar van die lodge, het gesê Eddie is erg verniel. Hy moes steke aan sy kop kry en sy liggaam is oortrek van rou wonde soos wat die aanvallers hom oor die sement rondgesleep het. “Hy het hom teengesit, maar die drie was te veel vir hom. Hulle het hom baie seergemaak.”

Volgens Klopper is daar baie groot kommer in die gemeenskap oor die hoeveelheid rondlopers in die omgewing. Daar was Paasnaweek ook ’n voorval waar verdagtes die drade geknip en deurgekruip het om toegang tot die lodge te kry. Verskeie gaste se besittings waaronder selfone, kameras en skootrekenaars is gesteel.
“Ons is weerloos en magteloos. Daar is onlangs ook by ons bure ingebreek waar die boosdoeners met vuurwapens weggekom het.”

Klopper het gesê daar is goeie samewerking van die polisie en hy hoop dat die verdagtes gou aangekeer sal word.

“Dit maak mens egter moedeloos as daar soveel aanvalle in jou omgewing is. Jy wonder elke keer wanneer is dit jou beurt.”

Volgens Klopper was die lodge sy groot droom om ’n plekkie in die natuur van sy eie te hê. “Ek weet egter nie of dit die moeite werd is nie. Ek dink maar self daaraan of dit nie beter sal wees om te emigreer nie.”

In nog ’n voorval is Daan Venter van Mooi Nooi kritiek gewond nadat hy en ’n vriendin oorval is toe hulle van die dorp teruggekom het.

André Scherman, hoof van veiligheid by die AfriForum-tak van die dorp, het gesê hy het verneem Daan is in die maag en regterbeen geskiet. Hy is in ’n bedenklike toestand in ’n Pretoriase hospitaal.

Die aanvallers het hulle in hul eie motor in die motorhuis op die plaas ingewag waar hulle oorval is.

Nadat Daan geskiet is, is hy rondgesleep en in ’n stoorkamer vasgebind. Die aanvallers het sy vriendin die huis ingedwing waar sy al die vuurwapens aan hulle moes oorhandig. Sy is ook daarna vasgebind, terwyl die boosdoeners met albei van hulle se voertuie op die vlug geslaan het.

In die derde voorval is Christo en Monique van den Berg naby Rustenburg aangeval. Volgens Forum Nuus se inligting is Christo onder meer in die voet geskiet en Monique met ’n panga gekap.

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, het die aanvalle betreur en gesê dit is kommerwekkend dat hierdie gebied klaarblyklik ook nou ’n brandpunt vir aanvalle is.

“Dit wil voorkom asof die aanvalle georkestreer is en ons doen ’n beroep op ons veiligheidstrukture om ekstra paraat te wees en op die uitkyk vir vreemdelinge te wees.”

Soortgelyke plasings