Spyskaart +

For whatever trauma came with service in tough circumstances

Januarie 17, 2018 deur Ian Cameron

For whatever trauma came with service in tough circumstances, we should take what we learned – take our post-traumatic growth – and, like past generations coming home, bring our sharpened strengths to bear, bring our attitude of gratitude to bear. And most important, we should deny cynicism a role in our view of the world – General James ‘Mad Dog’ Mattis.

Ná amper 400 plaasaanvalle in Suid-Afrika in 2017, vra talle mense herhaaldelik of dit die moeite werd is om te bly? Hulle vra of dit enige waarde vir ons inhou om hier aan die suidpunt van Afrika ’n volhoubare toekoms te vestig vir ons nageslagte. Toe ek die boonste aanhaling deur afgetrede Amerikaanse generaal Mattis lees, het die antwoord vir my duideliker geword.

Mattis meen eenvoudig dat ons juis in hierdie moeilike tyd dít wat ons leer, moet gebruik. Hy praat ook nie alleen van posttraumatiese stres nie, maar van posttraumatiese groei. Sonder om die eersgenoemde te ontken, meen Mattis dat ons juis deur sekere traumas – met die regte verstaan en benadering – sterker, maar veral slimmer, aan die ander kant kan uitkom. Ons generasie meen dikwels dat trauma totaal ongewoon of selfs iets nuuts is.

Wat beteken posttraumatiese groei in ons geval? Dit beteken ons gaan nie ophou bou nie; ons gaan nie ophou veiligheidstrukture ontwikkel nie; ons gaan nie ophou om mense op te lei om hulself binne die raamwerk van die wet te beskerm nie; en ons sal aanhou om ’n toekoms te vestig.

Ek wil graag by Mattis voeg dat ons in hierdie tyd, soos elke vorige generasie van veral Afrikaners, ’n stryd van ons tyd het. Ons moet soos vorige generasies leer uit wat gebeur en daarvolgens oplossings bou. Mattis noem dit ‘sharpened strengths’. Hierdie vermoëns wat verskerp is, kan nou juis nog meer tot ons voordeel tel.

Deur selfs ’n stap verder te neem, kan ons sê dat ons reeds talle lesse geleer het; ons moet egter net dit wat ons weet toepas. As deel van AfriForum se Projek Nehemia is daar ’n gulde geleentheid om mense te integreer om hoop in geloof te skep, ons ervaring in die toekoms in te projekteer en natuurlik daardeur ’n veiliger toekoms te bou.

Hoekom Nehemia?

In die Ou Testamentiese verhaal van Nehemia het hy en sy gemeenskap die mure ondanks weerstand en kritiek begin herbou. Mense soos Sanballat en Tobija het die spot gedryf met Nehemia en selfs gesê dat hy teen ’n opdrag van die koning optree en dat slegs ’n jakkals wat op die muur loop die muur sal laat omval. Klink dit bekend? Aanvanklik was die weerstand eintlik net ’n bespotting van Nehemia se poging, maar toe hulle sien dat Nehemia besig is om te vorder, het dié weerstand in dreigemente ontaard.

Toe dreigemente toenemend groei, het baie van die muurwerkers ’n vrees ontwikkel dat hulle aangeval sou word tydens hul bouwerk. Nehemia het eenvoudig gesê dat niemand hoef te vrees nie. Daar dus word voortgebou in ’n ‘eenheid van poging’.

Nehemia en sy span moes met swaard in die een hand en die troffel in die ander werk, hulle moes sowel fokus op verdediging as die herbou van Jerusalem se mure. Klink dit nie ook soos waar ons tans in Suid-Afrika staan nie?

Die boodskap uit Nehemia is dat ons nie net kan hoop nie, ons kan nie alleen glo nie, maar ons moet daadwerklik geloof hê, ons moet bid, ons moet in onsself begin glo, so kan ons dus self ons moue oprol en ’n nuwe, volhoubare toekoms bou.