Werklike matriekslaagsyfer van minder as helfte bewys onderwysdepartement laat Suid-Afrikaanse jeug in die steek


AfriForum wens alle matrikulante wat in 2016 hulle skoolloopbaan suksesvol voltooi het, van harte met dié prestasie geluk en bedank hulle onderwysers wat dit moontlik gemaak het.
Terselfdertyd het AfriForum met groot kommer kennis geneem van die totale amptelike slaagsyfer van 72,5% in 2016 teenoor 70,7% in 2015. Indien gekyk word na die aantal leerders wat in 2005 die eerste keer in graad een was en hul matriekjaar in 2016 suksesvol voltooi het, is die werklike slaagsyfer minder as 50%.

“ʼn Verslag van die onderwysdepartement dui aan dat  net meer as 1,2 miljoen leerders in 2005 in graad een in openbare skole was. Volgens die statistiek wat die minister van basiese onderwys pas bekend gemaak het, het minder as die helfte van hierdie aantal leerders in openbare skole in 2016 die matriekeindeksamen geslaag. Die minister se versekering dat die leerders se uitsaksyfer betekenisvolle aandag geniet, oortuig dus nie. Nog meer onrusbarend is die feit dat dié onbevredigende slaagsyfer behaal is ten spyte van omstrede punte-aanpassings,” sê Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum.

Bailey beklemtoon dat verstellings aan standaarde en punte ter wille van ’n hoër slaagsyfer die Suid-Afrikaanse jeug geen guns bewys nie.

“Aangepaste punte is ’n kitsoplossing wat jongmense dalk help om nou te slaag, maar hulle in die toekoms gaan pootjie weens ’n gebrek aan insig en kennis van vakke wat só geslaag word,” sê sy.

Dit is volgens Bailey dringend noodsaaklik dat die departement van basiese onderwys aanspreeklikheid aanvaar en leierskap toon om probleme soos ’n gebrek aan moedertaalonderrig, ondoeltreffende kurrikulumopsies, verlammende optrede deur sommige onderwysvakbonde, ontoereikende opleidingsgeleenthede vir onderwysers, wanfunksionaliteit van skole en dissiplineprobleme die hoof te bied.
Die mees onlangse jeugwerkloosheidsyfer vir die derde kwartaal van 2016 is 47,6%. Dit skep volgens Bailey ’n tydbom wat ekonomiese groei en stabiliteit in die land betref, om nie te praat van die persoonlike trauma vir jongmense wat in so ’n uitsiglose situasie vasgevang word nie. Bailey beklemtoon dat die departement politiekery moet laat vaar en matrikulante bemagtig met vaardighede wat hulle aanstelbaar maak, in plaas daarvan om met kosmeties-aangepaste persentasies te probeer beïndruk.

Soortgelyke plasings