--> -->
Spyskaart +

Wêreldwaterdag: Ons oorlewing is op die spel

Maart 22, 2019 deur Admin

Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum.

Water is sekerlik die belangrikste hulpbron vir die mensdom se oorlewing op aarde. Water vorm die grondslag van enige vorm van lewe en word op verskeie maniere en in talle kontekste gebruik om ekonomiese aktiwiteit te onderhou. Wêreldwaterdag op 22 Maart is dus nie net ’n simboliese dag nie. Dit gaan as ’t ware oor die oorlewing van die mensdom.  

’n Groeiende bevolking is slegs een van die probleme wat druk op waterbronne plaas. Miljarde mense leef in 2019 steeds sonder skoon en veilige water. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie sterf nagenoeg 4 miljoen mense – waarvan die meeste jonger as vyf jaar is –jaarliks aan siektes wat regstreeks met besoedelde water verband hou. Dit is meer as 330 000 mense per maand, of 10 000 mense per dag.

Dit is veral in Afrika – met sy snelle bevolkingsgroei en verstedeliking – en ook Suid-Afrika ’n reuseprobleem omdat daar letterlik ook met water gemors word en besparingstegnologie ook nie ’n groot rol speel nie.

Suid-Afrika is onder die top-30 droogste lande ter wêreld en daarom sou mens dink dat ons nie ’n druppel daarvan kan mors nie. Tog is dit wat gebeur – te wyte aan swak staatsbestuur van ons waterbronne en -infrastruktuur. Ons verloor na beraming sowat 37% van ons drinkwater weens onder meer lekkasies in pype. Dit is ’n skokkende hoeveelheid en dit is die krisis wat nie na behore erken word nie.

Die Sondagkoerant Rapport het vanjaar berig dat watervoorsiening in die land tot só mate in duie gestort het dat die krane in meer as 90 dorpe regoor die land gereeld leegloop. Baie van hierdie dorpe se drinkwater is ook ondrinkbaar. Dié inligting kom uit lyste wat AfriForum uit ons takke se inligting saamgestel het.

“Hoewel baie dorpe en streke landwyd gebuk gaan onder droogte is ’n tekort aan reën nie die enigste rede vir die meeste dorpe se waterskaarste nie. Hulle het water, maar reservoirs, damme, pompe en pype word so swak in stand gehou dat water nie by die verbruikers uitkom nie,” lui die berig.

Watersuiwerings- en rioolaanlegte word ook nie behoorlik in stand gehou nie. Dit is die plig van plaaslike regerings, maar baie van hulle is bankrot en ontdaan van genoegsame tegniese vaardighede om kop bo water te hou.

Morné Mostert, hoof van plaaslike regering by AfriForum, sê die grootste uitdaging is die hantering van rioolafval. “Hoewel ’n opname wat ons in 2017 gedoen het ’n verbetering in die gehalte van die drinkwater aandui, is daar ’n beduidende verswakking in die behandeling van rioolafval,” het hy luidens Rapport gesê. Dit het natuurlik ’n skadelike impak op die besoedeling van riviere.

Dis egter nie al nie. Die ouditeur-generaal het verlede jaar aan die parlement gesê dat onreëlmatige besteding in die 2016-2017-geldjaar tot meer as R6 miljard opgeskiet het.

Al hierdie gegewens dui daarop dat die staat bloot nie vertrou kan word om ons waterbronne alleen te bestuur nie. Hulle het waghonde en heelwat hulp nodig, om die minste te sê.

Dit is waar burgerlike organisasies soos AfriForum, met sy wydverspreide takstruktuur en 217 000 lede, ’n kardinale rol het om te speel. Die staat het sedert 2013 nie meer sy Bloudruppel- (oor drinkwater) en Groendruppelverslag (oor rioolwater) gepubliseer nie. AfriForum het egter ons eie toetse gedoen en verslae hieroor gepubliseer om die owerhede sodoende verantwoordbaar te hou en vir die publiek te wys wat die gehalte van hul drink- en rioolwater is.

Daarbenewens het verskeie AfriForum-takke reeds noodwaterpunte opgerig. Sodoende word skoon drinkwater by privaat bronne beskikbaar gestel. Ons herstel ook munisipale boorgate in krisistye om watervoorsiening te verbeter.

Onkostes wat die gemeenskap moes aangaan om water weens ontoereikende of geen munisipale waterverskaffingsdienste sélf te voorsien, word van die betrokke munisipaliteit teruggeëis.

AfriForum is steeds verbind tot navorsing oor en die strewe na onafhanklike oplossings, asook die privatisering van waterstelsels onder die toesig van die staat (as beskermer van die land se waterbronne).

Die burgerregte-organisasie het die #SkoonWater-inisiatief reeds in Februarie 2013 geloods. Dié projek streef na positiewe verandering in die bestuur van drink- en verwerkte rioolwater oor die hele Suid-Afrika heen, asook om betrokke amptenare verantwoordbaar te hou. Die Grondwet maak uiteraard voorsiening vir regte tot water en ’n gesonde omgewing, maar as die staat nie verantwoordbaar gehou word en privaat inisiatiewe nie onderneem word nie, is daardie regte in baie gevalle slegs papierregte.

Behalwe om jou deel te doen om water te bespaar, staan saam met AfriForum om te verseker dat jou watervoorsiening volhoubaar, skoon en veilig is. Dan sal ons elke jaar werklike gemoedsrus en opwinding op 22 Maart beleef, en nié angs en kommer nie.