|

Welcome wil ambassadeur vir Afrikaans wees na kampusprotes

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

“Ek is in Afrikaans grootgemaak en die liefde wat ek vir dié taal het, is onbeskryflik.”

Só sê Welcome Sphiwe Buda van Pretoria oor sy moedertaal Afrikaans.

Die onlangse aanslae op Afrikaans as onderrigtaal en gewelddadige protesaksies op kampusse nasionaal, het dié 25-jarige aangespoor om sy mening oor sy taal te lug. Hy het ’n brief aan AfriForum geskryf en gesê hy sal graag op verskillende vlakke betrokke wil raak om vir die behoud van Afrikaans op te staan.

“Ek het gesien party studente dring aan dat Afrikaans afgeskaf moet word by universiteite en ek dink dit is tyd dat mense soos ek wat Afrikaans lief het, ook ons boodskap oordra.”

Welcome is in Mpumalanga gebore en sy familie het na Centurion verhuis toe hy ses jaar oud was. Hy het na die Kleuterhoekie Kleuterskool in Rooihuiskraal gegaan en sy laerskoolloopbaan by die Laerskool Rooihuiskraal voltooi.

“Ek het in die kleuterskool Afrikaans leer praat en my ma het ook baie in Afrikaans met my gepraat sodat ek die taal vinniger kon aanleer om voorbereid vir skool te wees.”

Hy het in 2004 by die Hoërskool Eldoraigne ingeskryf, maar in gr. 9 besef hy is meer tegnies aangelê. Hy is toe na die Hoërskool Zwartkop waar hy in 2008 gematrikuleer het.

Hy het “Vermaak Tegnologie” aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) studeer en in 2011 sy kursus voltooi. Hy werk tans as ’n verkoopsman by ’n winkel wat toerusting verkoop in Pretoria.

“Ek praat by die huis met my familie Ndebele maar my moedertaal is Afrikaans. Ek is dalk nie Afrikaans gebore nie, maar ek is trots om deel te wees van so ’n wonderlike gemeenskap.”

Welcome meen daar is plek vir Afrikaans as onderrigtaal in die land. “Ek het in Afrikaans, my huistaal, skoolgegaan en dit behoort op skool en universiteit gebruik te word omdat dit so ver ontwikkel is.”

Hy sê voorts dat studente ’n kans gegun moet word om te kan kies in watter taal hulle wil studeer, indien dit moontlik is.

Welcome sê hy het begrip vir standpunte wat studente tydens die protesaksies ingeneem het, maar die vlakke van geweld wat voorgekom het, is onaanvaarbaar.

“Ek praat nie graag oor politiek nie maar die optredes van mense wat die taal wil verwyder, is heeltemal onnodig. Hoekom moet mense standbeelde vernietig? Dit is ‘n groot deel van ons land se geskiedenis, die goeie en slegte daarvan.”

Hy meen almal se geskiedenis en kultuur moet gerespekteer  word.

“Ek dink Afrikaanssprekende studente doen wat enige iemand sal doen om hul huistaal te beskerm, dit is egter baie jammer oor die geweld tussen die partye.”

Ondanks die huidige aanslae op Afrikaans, is hy vasbeslote om Afrikaans voort te laat leef in sy toekoms. “My kinders gaan verseker Afrikaans leer praat en hulle gaan ook in Afrikaanse skole wees.”

Hy leef homself ten volle uit in sy taal en kyk ook graag Afrikaanse televisieprogramme soos 7de Laan en Noot vir Noot. “Ek en my ma het dit baie geniet en altyd saamgesing. 7de Laan is natuurlik nou my gunsteling (ek droom nog om ‘n rol te kry),” grap hy.

Sy gunsteling Afrikaanse boek is Fiela se Kind en sy gunsteling Afrikaanse liedjie is Soos Bloed van Theuns Jordaan. In sy vrye tyd hou hy ook sy lyf skrywer en het hy selfs ‘n liefdesverhaal vir ‘n Huisgenoot-wedstryd geskryf.

Welcome sê hy hoop om eendag ’n verskil te maak en ’n bydra te maak om Afrikaans as onderrig- en gemeenskapstaal te red. “Ek is trots Afrikaans en nie skaam om dit te sê nie.”

 

Soortgelyke plasings