|

Hlaudi Motsoeneng moet vasgevat word oor sensuur by SAUK

Deur Casandra van Aswegen

Nuus moet regverdig, billik, onpartydig, gebalanseerd en onafhanklik van die regering, kommersiële en ander belange aangebied word. Die SAUK het as openbare uitsaaier ’n plig om nuus vanuit verskeie perspektiewe aan die publiek oor te dra.

So sê Monique Taute, Afriforum se nasionale veldtogkoördineerder, oor die storm wat die afgelope weke by die SAUK woed en wat tot die skorsing van drie joernaliste gelei het.

Volgens Taute glo AfriForum in mediavryheid en toegang tot inligting.

Daarom is die burgerregte-organisasie gekant teen omstrede besluite van Hlaudi Motsoeneng, SAUK-bestuurshoof, soos dat verkiesingsgeweld nie uitgesaai mag word nie, dat koerantopskrifte nie meer oor radio of televisie gelees of gewys mag word nie dat die uitsaaier op meer positiewe nuus moet fokus. Motsoeneng het ook onlangs ’n dekreet uitgevaardig dat 90% van alle musiek op radiostasies plaaslike musiek moet wees.

Taute meen Motsoeneng se optrede is erg nadelig in ’n sogenaamde demokrasie waar vryheid tot inligting van die publiek weerhou word. “Wat nou by die SAUK gebeur, stem ooreen met wat in die apartheidsjare plaasgevind het toe die staat deur soortgelyke optrede inligting van die publiek weerhou het.”

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, sê vryheid van spraak en mediavryheid is ʼn grondwetlike reg en as dit nie reg toegepas word nie, kan demokrasie nie reg funksioneer nie.

“Die SAUK is die grootste nuusorganisasie in die land en deur inligting van die publiek te weerhou, gee dit die publiek nie ʼn regverdige kans om objektiewe besluite te neem soos in die komende verkiesing nie. Sowat 7 miljoen Suid-Afrikaners kyk na SAUK-programme en 1,7 miljoen luister na RSG wat nou ook geteiken is om nie opjektiewe nuus te dra nie.

Volgens Roets skep die weerhouding van inligting ʼn selektiewe prentjie oor wat in die land aangaan. Die ANC word in die proses bevoordeel en beskerm omdat joernaliste nie toegelaat word om negatiewe inligting oor die regering uit te saai nie.

In ’n poging om vir mediavryheid op te staan en te veg, gaan AfriForum Woensdag met ’n veldtog buite die kantore van die SAUK afskop.

Taute het versoek dat die publiek die veldtog op AfriForum se webwerf by www.afriforum.co.za volg en ondersteun. AfriForum beoog om ook klagtes teen Motsoeneng in te dien en sy afdanking te eis.

 

 

Soortgelyke plasings