|

Wees helde en meld korrupsie aan

Elke individu wat bewus is van korrupsie het ’n plig en verantwoordelikheid om dit aan te meld en aan die kaak te stel.

Dit was die boodskap wat adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaat vervolgingseenheid, gister in Nylstroom (Modimolle) aan inwoners oorgedra het wat die burgerregte-organisasie se takvergadering bygewoon het.

Die vergadering is een van ’n reeks wat die organisasie aanbied as deel van sy Knak Korrupsie-veldtog.

Die doel met die veldtog is om korrupsie ook op plaaslike vlak te ontbloot en om riglyne aan individue deur te gee oor hoe dit gedoen kan word.

Nel het ’n omvattende voorlegging gemaak om prakties te verduidelik wat korrupsie is en wat nodig is om dit aan die kaak te stel. Hy het ook verduidelik watter rol faktore soos goeie ondersoekwerk, getuies, deskundige getuies, dokumentasie, fluitjieblasers en tegnologie (soos selfone en rekenaars) speel in die proses om korrupsie te ondersoek en uiteindelik te ontbloot.

Hy het beklemtoon dat korrupsie nie net neerkom op die verwisseling van geld tussen individue met die doel om enige voordeel daaruit te trek nie. Enige handeling of aksie wat daartoe kan lei dat ’n korrupte verhouding geskep word of kan ontstaan, dui reeds op korrupsie.

Nel het ook verwys na figure hoog op in die regering wat by talle klagtes van korrupsie en ander onwettige optrede betrek word. Dink maar aan name soos Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, David Mabuza, adjunk-president van die land, en Ajay Gupta, Indiese sakeman wat by staatskaping betrek word. As dit nie was vir individue wat bereid is om na vore te kom nie, sal daar nie ondersoeke teen hulle gewees het nie, het Nel gesê.

Wico Swanepoel, regsadviseur: plaaslike korrupsie by AfriForum, sê korrupsie raak almal in die gemeenskap en die totale bekamping daarvan begin by elke individu. Enigiemand met inligting oor enige korrupte optrede deur individue het ’n verantwoordelikheid om ’n klag by die polisie in te dien of as fluitjieblaser op te tree. AfriForum is daartoe verbind om fluitjieblasers te beskerm wat met inligting oor korrupsie vorendag kom.

James van Zyl, voorsitter van AfriForum se tak in Nylstroom, sê mense is ongelooflik positief ná Nel se voorlegging. “Ons het baie beter insae gekry in wat adv. Nel doen en wat AfriForum se rol in die ontbloting van korrupsie is. Almal praat gereeld oor korrupsie, maar niemand verstaan werklik wat dit alles behels nie. Ons is nou baie beter ingelig oor wat gewone mense ook in die verband kan doen.”

Marlene van Staden, burgemeester van Nylstroom, het die inligtingsessie as interessant en insiggewend bestempel. Sy meen dit sal nog meer sinvol wees indien jongmense wat lid van dorpe se sakekamers is ook dié inligting kan bekom om sodoende ’n rol te kan speel om korrupsie op plaaslike vlak hok te slaan.

Soortgelyke plasings