|

Wees deel van die Aitsa Afrikaanse Musiektoekennings en gaan stem nou!

Jou hart klop Afrikaans en Afrikaanse musiek leef op jou tong en in jou ore.

Dan moet jy nie op 16 Oktober die Aitsa Afrikaanse Musiektoekennings misloop wat by die Moreleta-ouditorium in Pretoria aangebied word nie.

Die inisiatief is in Mei vanjaar deur Pretoria FM aangekondig en beloof om ’n spoggerige onafhanklike, deursigtige en geloofwaardige Afrikaanse Musiektoekenningsgeleentheid te wees. Dit word sonder die inmenging of voorskrifte van instansies of individue aangebied. AfriForum en Dapper Media is van die borge vir die toekennings.

Verskeie gewilde kunstenaars onder wie Demi Lee Moore, Nadine, Ruhan du Toit, Ricus Nel, Snotkop, Dewald Wasserfall, Juan Boucher, Steve Hofmeyr, Ghapi, Adam Tas, Kosie Beukes, EarlyB, Elandré, Pietman Geldenhuys, Corlea, Monique, Liezel Pieters, Danny Smoke en Elvis Blue gaan optree.

Baanbrekers in die Afrikaanse musiekbedryf sal ook vereer word, terwyl spesiale gilde vir Afrikaanse Kuns en Kultuur ook oorhandig sal word.

Daar was meer as 300 inskrywings vir liedjies, albums en musiekvideo’s. Twaalf beoordelaars het punte toegeken waarna topnominasies gemaak is. Daar is kategorieë waarvoor die publiek tot 29 September kan stem.

Dié kategorieë is album van die jaar, kunstenaar van die jaar, gewildste liedjie van die jaar, musiekvideo van die jaar en nuweling van die jaar.

Van die kunstenaars in die kategorieë wat genomineer is, sluit in Demi Lee Moore, Jo Black, Refentse, Tarryn Lamb, Jan Blohm, Juan Boucher, Spoegwolf, Snotkop, Almero Welgemoed, Hanco en Elandré.

Elkeen van die kunstenaars, liedjie, album of video het ’n kode. Die publiek kan na die lys op www.pretoriafm.co.za gaan kyk en hul gunsteling se betrokke kode na 45689 SMS. Slegs een stem per unieke kode word toegelaat.

Volgens Hennie Koortzen, uitvoerende hoof van Pretoria FM, gaan dit ’n wêreldklas-vertoning wees waartydens ook  erkenning aan legendes in die Afrikaanse musiekbedryf gegee sal word.

Kaartjies is by www.itickets.co.za beskikbaar en kos R150 per persoon.

Soortgelyke plasings