--> -->
Spyskaart +

Weerwolwe en die ou Suid-Afrikaanse vlag

Mei 2, 2019 deur Admin

Natasha

Deur Natasha Venter

Mense het nog altyd die behoefte gehad om iets, buiten die self of die groep, te blameer as daar wesenlike fout in die samelewing is. In ’n Middeleeuse Franse dorpie was dit byvoorbeeld makliker vir dorpenaars om te aanvaar dat ’n weerwolf besig was om jong meisies weg te dra as om te erken dat daar ’n reeksmoordenaar in hul midde was. Deesdae, in hierdie verligte tyd (mits daar nie beurtkrag is nie), kan mense nie meer gedrogte die skuld gee wanneer dinge donker lyk nie. En die stand van sake wat tans in Suid-Afrika heers – hoë werkloosheid- en misdaadsyfers, swak dienslewering, korrupsie, onbekwame owerhede, noem maar op – beteken dat mense na iets soek om te blameer. Ongelukkig is die weerwolf in hierdie verhaal sogenaamde “wit rassisme” waarop politici ywerig jag maak, sodat die “dorpie” tog nie moet besef wie die eintlike skurke in hierdie verhaal is nie.

Hierdie tendens is te bespeur in die Nelson Mandela-stigting (NMS) se aansoek om die ou Suid-Afrikaanse vlag tot haatspraak te verklaar en hul voeging van AfriForum as ’n respondent tot die saak. Volgens die NMS se visie is dié stigting verbind tot ’n samelewing wat sy verlede onthou, na alle stemme luister en maatskaplike geregtigheid najaag. Vanweë hul aansoek moet mens dus aflei dat hierdie visie nie vir sekere groepe van die Suid-Afrikaanse samelewing geld nie? Die ou vlag kan immers nie bloot gesien word as die “apartheidsvlag” nie, soos wat die NMS redeneer, dit het ’n veel ouer en dieper geskiedenis, en ’n verbod daarop is ’n ontkenning van hierdie geskiedenis.

Die antwoord op bogemelde vraag kan verder afgelei word vanuit die onlangse bevinding van die Menseregtekommissie (MRK) dat ’n politikus se uitsprake dat hy “nog nie vir die slagting van wit mense vra nie” nie op haatspraak neerkom nie. In hierdie bevinding beweer die MRK dat slegs sekere “kwesbare” groepe toegelaat moet word om hul woede en pyn uit te druk deur middel van die gebruik van kragtige woorde. Dit beteken dus dat individue van sekere rasgroepe rassistiese dinge mag sê, mits hulle dit in die regte konteks doen.

Wanneer genoeg blaam egter op die denkbeeldige weerwolf geplaas word, hetsy deur die gemeenskap of die owerhede, sal die mense ’n uitlaatklep begin soek. Maar in plaas daarvan om die eintlike skurk (bogemelde diensleweringskwessies, korrupsie en onbekwame owerhede) die stryd aan te sê, word mense dikwels deur politici op ’n heksejag gelei om die aandag van die eintlike probleme af te lei.

Gelukkig is daar diegene wat besef dat alle spookstories ’n basis het en die ware feite uitwys – organisasies soos AfriForum en Solidariteit, wat onder meer die NMS se aansoek teenstaan, die MRK se beslissing betwis, gildes stig om Afrikaanse sangers te vereer nadat hulle liedjies in effek gesensor word, en sportkwotas en aanstellings op grond van velkleur beveg. Deur verder lig te werp op die eintlike kwessies wat die Suid-Afrikaanse samelewing kwel, sal die wanopvatting dat wit rassisme die enigste of hoofoorsaak van alle probleme in die land is, binnekort die nekslag toegedien word en sal die denkbeeldige weerwolf weer in die mis verdwyn.