|

Week 2 van Maand van Selfstandigheid skop af

Die burgerregte-organisasie AfriForum se Maand van Selfstandigheid-veldtog gaan vandeesweek in dele van Gauteng en Limpopo uitgerol word.

Tydens dié projek sal paaie herstel en opgegradeer word, verwyderde stoptekens vervang word en voetoorgange en spoedhobbels geverf word in dorpe waar paaie nie aan die minimumvereistes voldoen soos wat in toepaslike wetgewing en regulasies uiteengesit is nie.

Dié selfdoen-veldtog is verlede week van stapel gestuur met groot padveiligheidsaksies in Centurion, Pretoria-Oos, Heidelberg, Springs, Witbank, Westonaria, Alberton, Nigel, Hartebeespoort, Vanderbijlpark en Barkley-Oos.

Tydens die eerste week het die burgerregte-organisasie sowat 3 327 km gereis om in ʼn totaal van 12 dorpe altesaam 55 stoptekens op te rig. Sowat 1 060 liter verf is ook gebruik om altesaam 71 stoptekens en 24 spoedhobbels te verf.

Die burgerregte-organisasie gaan tydens dié projek sowat R2 miljoen aan die munisipale padinfrastruktuur van dorpe bestee waar daar aktiewe AfriForum-takke is.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is sterk burgerlike organisasies soos AfriForum ’n voorvereiste vir die suksesvolle uitvoer van selfdoenaksies.

“Talle klein selfdoenaksies maak saam ’n reuseverskil. Diegene wat op plaaslike vlak by AfriForum se selfdoenaksies betrokke is, is elkeen ’n leier in eie reg.”

Die projek word vandeesmaand nasionaal na verskeie ander dorpe uitgebrei.

Soortgelyke plasings