Spyskaart +

Watertydbom ontplof, kort ná AfriForum-waarskuwing

November 1, 2015 deur Esmarie Prinsloo

“Die watertydbom het ontplof, en beurtwater het ’n werklikheid in Suid-Afrika geword,”

het AfriForum gesê, nadat die minister van water en sanitasie, Nomvula Mokonyane dit amptelik aangekondig het.

“Ons is bekommerd oor die swak bestuur van water deur die nasionale waterreguleerder en die meeste munisipaliteite, en ons glo dit is tyd dat ’n onafhanklike reguleerder aangestel word om die land se waterbronne te beskerm,” het Julius Kleynhans, hoof van omgewingsake by die burgerregte-groep, gesê.

“AfriForum het Waterwese in 2012 gewaarsku dat Suid-Afrika vanjaar ’n droogte sal ondervind, maar die gebrek aan vaardigheid en verantwoordbaarheid het nou die hele land benadeel.”

AfriForum het sy kommer benadruk, aangesien die DWS nie die R2 miljard bestee het wat vir die 2014/2015-geldjaar aan hulle toegeken is nie, en aan nasionale tesourie terugbesorg is.

“Hoewel R2 miljard slegs ’n druppel aan die emmer is, kon dié geld spandeer word om noodwaterpunte, soos boorgate in dorpe, aan te bring en om waterinfrastruktuur op te knap, wat die krisis se rimpelings beduidend sou verminder.”

2014 was ’n tragiese jaar waarin gemeenskappe gesinslede aan die dood afgestaan het as gevolg van besmette water. In Bloemhof in die Vrystaat is drie babas dood, en in Sannieshof in Noordwes is 13 babas dood, na bewering as gevolg van besmette drinkwater.

Volgens Kleynhans gaan meer as 40 % van die land se skoon drinkwater – wat na raming sowat R7 miljard werd is – verlore as gevolg van lekkasies wat toe te skryf is aan infrastruktuur wat nie in stand gehou word nie, ’n gebrek aan befondsing en swak bestuur.

AfriForum sê die waterkrisis in die land moet die ANC maklik oortuig dat hul Nasionale Ontwikkelingsplan in die gedrang is en dat hidrobreking in die Karoo nie eers oorweeg moes word nie.

AfriForum se omgewingsake-afdeling het die volgende waterbesparingswenke saamgestel:

  1. Installeer ’n behoorlike waterfiltreringstelsel in jou huis;
  2. Om beurtwater te voorkom, wend jou tot alternatiewe wateroplossings, soos die installering van ’n bykomende watertenk;
  3. Maak gebruik van ’n boorgat;
  4. Moenie afvalwater in die drein afspoel as dit gebruik kan word om jou plante of tuin nat te maak of vir skoonmaakdoeleindes nie;
  5. Stort korter. Vervang jou stortkop met ’n weergawe wat ekstra min vloei toelaat. Sekere eenhede is beskikbaar wat jou in staat stel om die vloei te beperk sonder om die watertemperatuur-knoppies te verstel. Jy kan tót 20 liter water per minuut gebruik wanneer jy stort.
  6. As jy die volume van ’n toiletspoel kan verminder, kan jy watergebruik tot 20 % verminder. Dít kan bewerkstellig word deur ’n 2 liter koeldrankbottel, wat met water en ’n bietjie sand vir gewig gevul is, in die toiletbak te sit.
  7. Vervang ouer toilette met waterdoeltreffende modelle;
  8. Moenie die toilet onnodiglik spoel nie;
  9. Moenie die water laat loop terwyl jy skeer of jou gesig was nie. Borsel jou tande terwyl jy wag vir die water om warm te word. Was jou gesig dan, of skeer wanneer die wasbak volgetap is; en
  10. Herstel alle lekkasies in en rondom jou huis.

SMS jou dorp se naam na 45354 om AfriForum te steun in hul strewe na die volhoubare gebruik en bewaring van die land se water. R1/SMS.