Spyskaart +

Waterprobleme in KwaZulu-Natal: AfriForum nader MRK

Oktober 11, 2017 deur Mariska Batt

 

Die AfriForum-tak in Margate het ’n klag by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) ingedien ná voortslepende waterprobleme in gemeenskappe wat deur die Ugu Distriksmunisipaliteit bedien word. Die MRK word versoek om ’n volledige ondersoek na dié probleme in te stel omdat dat dit op ’n growwe skending van inwoners se regte neerkom.

Volgens Eugene van Aswegen, AfriForum se provinsiale koördineerder vir KwaZulu-Natal, moes talle inwoners verskeie kere vanjaar vir dae aaneen sonder water klaarkom.

“Dit is teenstrydig met nasionale wetgewing en ontneem inwoners van hul basiese reg tot water.”

Van Aswegen sê voorts dat watertoevoerprobleme veral oor vakansietye toeneem, wat ook groot ekonomiese uitdagings vir Suidkus-gemeenskappe skep omdat talle toeriste hierheen stroom.

“Die tak het oor die afgelope drie jaar die munisipaliteit herhaaldelik oor die waterprobleme probeer kontak en selfs voorstelle ingedien, maar het tot dusver min tot geen terugvoer of samewerking ontvang nie,” sê Wessel Pretorius, voorsitter van die Margate-tak.

Van Aswegen sê dat soortgelyke probleme ook in ander dele van die provinsie voorkom en dat AfriForum moontlike verdagte aktiwiteite rondom dié waterprobleme ondersoek. Klagtes hieroor is reeds verlede jaar by die Valke ingedien.