Waterkrisis in Wes-Kaap: AfriForum wag vir groen lig

 

AfriForum sal met hul projek om uitgesoekte damme in die Wes-Kaap dieper en groter te maak, wegspring sodra dié organisasie die groen lig van die departement van water en sanitasie (DWS) ontvang.
Die burgerregtewaghond het reeds grondverskuiwingspesialiste en kontrakteurs ingewin om met dié projek te help en hoop om spoedig daarmee te begin. Die Wes-Kaapse provinsiale regering het ook aangedui dat hulle deel van die projek wil vorm en onder meer die nodige toerusting vir die projek sal verskaf waar moontlik.
Verskeie versoeke is reeds by die departement ingedien.

“Die organisasie wil met dié projek proaktief optree sodat daar in die toekoms meer water in die damme geberg kan word wat verligting in dor tye sal bring deur waterbeskikbaarheid te vermeerder,” sê Chris Boshoff, koördineerder vir omgewingsake by AfriForum.

Boshoff sê voorts dat daar hoofsaaklik op kleiner damme, wat tans baie minder waterkapasiteit het, gefokus gaan word.

“Die voortslepende droogte skep ’n unieke geleentheid vir AfriForum om deur middel van selfdoeninisiatiewe in te gryp en in samewerking met die gemeenskap en die provinsiale regering ’n wesenlike verskil te maak. Ons hoop dat die DWS spoedig aan boord sal kom,” sê Marcus Pawson, hoof van omgewingsake by AfriForum.

Pawson sê voorts dat sowat 80% die DWS se begroting vir 2017/2018 vir die opgradering van waterinfrastruktuur gereserveer word.

“AfriForum versoek dat vergroting en verdieping van damme deel van dié begroting sal vorm.”

 

Soortgelyke plasings