|

Water-meesterplan: Takel éérs wanbestuur, sê AfriForum

AfriForum is van mening dat Lindiwe Sisulu, minister van menslike nedersettings, water en sanitasie, éérs die wanbestuurprobleem binne dié departement moet takel en ’n kultuur van aanspreeklikheid moet kweek alvorens die water-meesterplan wat gister bekend gemaak is, suksesvol uitgerol kan word.

Hoewel AfriForum die aankondiging dat daar herstrukturering binne die departement gaan plaasvind verwelkom, is dié burgerregte-organisasie bekommerd dat dit nie op grond van meriete gaan geskied nie en dat moontlike korrupte amptenare steeds aan die stuur sal wees.

“Die meesterplan gaan volgens Sisulu sowat R900 miljard kos. Die jongste verslag van die ouditeur-generaal dui egter aan dat die departement sowat R1,7 miljard verloor het as gevolg van onreëlmatige en verkwiste uitgawes aan waterinfrastruktuurprojekte. Die departement versuim hul plig om waterinfrastruktuur in stand te hou en takel voorts ook nie probleme soos waterlekkasies en -besoedeling wat tot grootskaalse watervermorsing lei nie,” sê Lambert de Klerk, bestuurder vir omgewingsake by AfriForum.

De Klerk sê verder dat indien die departement water werklik as ’n kritiese hulpbron beskou, daar ernstig en daadwerklik teen munisipaliteite opgetree moet word wat dié hulpbron in gedrang plaas.

AfriForum het in Augustus vanjaar sy blou-en-groendruppelverslag bekend gestel en het reeds op 6 November 2019 ’n vergadering met Sisulu versoek om die verslag en ander drukkende kwessies oor water te bespreek.

Soortgelyke plasings