|

Wat wag op universiteitskampusse in die lig van die EFF-jeug se dreigemente oor anargie?

Deur Bernard Pieters

Die jeugvleuel van die EFF het verlede week gedreig om universiteitskampusse in chaos en anargie te dompel indien daar nie aan drie van hul eise toegegee word nie.

Die jeuvleuel eis onder meer dat alle hoëronderwysinstellings “instap”-registrasie en gratis registrasie moet toelaat asook dat alle historiese studenteskuld afgeskryf moet word. Universiteite open volgende week.

AfriForum Jeug veroordeel enige vorm van geweld of dreigemente daarvan en doen ’n beroep op kampusveiligheidstrukture om veiligheid sover moontlik op te skerp.

Op die oog af sal baie mense die eerste twee eise van die EFF-jeug nie as ekstreem beskou nie, veral nie die EFF of soortgelyke groepe nie. Dit is egter ’n feit dat kampusse reeds in die vorige jaar hul getalle moet bevestig vir beplanningdoeleindes. Daar is beperkte blyplek vir studente in koshuise, ’n beperkte aantal dosente, lokale en ander hulpbronne en infrastruktuur by instellings beskikbaar.

Wat die eis vir die afskaffing van registrasiegeld betref, verstaan die EFF-jeug klaarblyklik ook nie die implikasies hiervan nie. Indien instellings sou toelaat dat enige student eenvoudig instap en registreer sonder om te betaal, loop instellings ‘n wesenlike gevaar dat studente met hul studies sal begin sonder om later vir enige klas- of ander studieskuld te betaal.

Die eis dat ‘n student se vorige studieskuld ook net summier afgeskryf word, is net so verregaande. Ek het self nog studieskuld. Indien ek sou eis dat dit eenvoudig net afgeskryf word, beteken dit dat ek iemand anders in werklikheid dwing om daarvoor te betaal. Ek en elke ander student het gekies om verder te studeer – ’n individu kan nie die verantwoordelikheid en gevolge van ’n persoonlike besluit op ander afskuif nie. Dit is immoreel en oneties.

Nog ‘n vraag is waar die geld vandaan moet kom om alle historiese studenteskuld af te skryf? Die sosialiste sal vir jou sê van die regering en deur belasting verder te verhoog. Dit is hier waar feite min impak het omdat ons met ‘n ideologiese argument te kampe het. Met uitgangspunte soos hierdie kan die EFF-jeug nie oortuig word van die finansiële dilemma waarin staatsinstellings, departemente én universiteite hul tans bevind nie.

Maar wat kan ouers en studente dan binnekort verwag? Kampusbestuur gee gewoonlik toe deur beloftes te maak aan hierdie radikale en gewelddadige studente. Die Universiteit van Stellenbosch is ’n goeie voorbeeld hiervan. Ons beveel aan dat ouers en studente sosiale media deurlopend dophou vir dreigemente van geweld op kampus. Tans is die meeste ouers en studente al gewoond daaraan om by die huis te bly weens sporadiese voorvalle van geweld op kampusse. Ouers kan ook betrokke raak by hul plaaslike buurtwag en op dié manier die regte kontakbesonderhede byderhand hê indien hulle dit nodig kry.

Studente kan ook by AfriForum Jeug se strukture betrokke raak om op hoogte te bly van vergaderings met universiteitsbesture asook wat die noodontruimingsplanne is wat reeds by sommige kampusse bestaan. Studente en ouers moet ook realisties wees wanneer hulle ’n tersiêre instelling kies. By baie instellings bestaan daar nie meer studentetradisies nie en is dit ook beter om eerder ‘n instelling te vermy waar studente direk in gevaar gestel word.

Die Solidariteit Beweging se hoëronderwysinstelling Akademia bied reeds verskeie geakkrediteerde grade en diplomas in Afrikaans aan. Vir meer inligting besoek www.akademia.ac.za

Bernard Pieters is die nasionale koördineerder vir Jeugstrukture op dorpe by AfriForum.

Soortgelyke plasings