|

Wat Suid Tirool vir Afrikaners kan leer

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

Verskeie kundiges uit Suid Tirool het vandag AfriForum besoek om meer te leer oor dié  burgerregte-waghond.

Dr. Gino Bentivoglio, asook ’n voormalige president van Suid Tirool, mnr. Luis Durnwalder, is van die gaste wat Solidariteit en AfriForum se hoofkantore in Pretoria besoek het.

Daar is goeie bande tussen Afrikaners en Suid Tirool, omdat hierdie onafhanklike Europese provinsie ook ’n geskiedenis het waar hulle moes veg vir hul kultuur, grond en identiteit as ’n minderheidsgroep.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het die besoekers verwelkom en meer vertel van AfriForum se werksaamhede.

Bentivoglio het AfriForum ook in 2012 besoek toe die organisasie sowat 50 000 lede gehad het. Vandag het AfriForum sy eie gebou oorkant Solidariteit en ’n ledetal van bykans 150 000.

Kriel het aan die Suid-Tirolers verduidelik dat die organisasie vinnig groei omdat daar ‘n gevoel onder landsburgers is dat die regering nie sy verpligtinge nakom nie. “Dit is vir ons as organisasie positief om ‘n groeiende lede-basis te hê, maar dit wys ook dat die land se probleme meer word.”

Durnwalder het gevra of die regering nie bedreig voel omdat AfriForum “inmeng” met hul werk nie. Hierop het Kriel gesê dat dit nie sal help om agteroor te sit en niks te doen nie. Hy meen dat AfriForum se doel is om eerder ‘n aktiewie verskil te maak en daarom glo die burgerregte-waghond daarin om nie net die regering uit te daag nie, maar om fisies in te tree indien hulle nie hul verpligtinge nakom nie.

Hy het voorts verduidelik dat AfriForum ’n inklusiewe Afrikaner-organisasie is en dat enige persoon wat homself hiermee kan assosieer welkom is. “Ons probeer om konflik met die regering te vermy en ons het ‘n goeie verhouding met sommige munisipaliteite in die land.”

Hy het het gesê AfriForum probeer om die huidige realiteite in Suid-Afrika aan te pak en dat die regering nie altyd die oplossings bied nie.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het vir die besoekers verduidelik dat Afrikaners tans soos tweedeklas- landsburgers voel, daarom veg hulle vir minderheidsregte in Suid-Afrika.

Hy het ook na die omvang van misdaad en geweld verwys en verduidelik waarom AfriForum plaasmoorde prioritiseer en veldtogte daaroor het.  “Ons fokus daarop om ’n sterk en gemobiliseerde gemeenskap te hê wat self probleme kan oplos.”

Hy meen AfriForum het ’n selfdoen-resep vir sukses vir Suid-Afrika.

Die besoekers was veral beïndruk met AfriForum se 10 Dae van Selfstandigheid-veldtog, wat vandag suksesvol afgesluit is.

Suid Tirool strewe sedert 1960 na selfbeskikking en het tans ’n stelsel van proporsionele verteenwoordiging van etniese groepe in die staatsdiens. Amptenare moet vaardigheidstoetse in Duits en Italiaans aflê.

Suid Tirool se benadering stem ooreen met  AfriForum se benadering van selfdoen. Hulle bevorder minderheidsregte en is van mening dat sterk onafhanklike instellings nodig is. Hulle glo ook daarin om saam te staan om hul tradisies, kultuur en erfenis te behou.

Soortgelyke plasings