--> -->
Spyskaart +

Wat die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering vir jóú beteken

September 20, 2018 deur Mareli Rall

 

Die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering, 2018, is in Junie vanjaar gepubliseer en dr. Aaron Motsoaledi, die minister van gesondheid, het ’n kommentaarperiode van drie maande afgekondig. Hierdie drie maande kom vandeesweek tot ’n einde en AfriForum het ’n toegewyde blad geskep waar die publiek maklik hul besware oor hierdie stelsel by die departement van gesondheid kan indien: www.jougesondheid.co.za. Dit vat net ’n minuut en maak ’n groot verskil.

Ewenwel, die wetsontwerp is meer as 80 bladsye lank en maak heelwat oënskynlik mooi beloftes. Artikel 1(4)(b) beloof dat daar verseker sal word dat die gebruik en verspreiding van gesondheidsdienste regverdig sal wees. Voorts word daar belowe dat die finansiering vir gesondheidsdienste volhoubaar verseker sal word. Een van die pligte van die te stigte nasionale gesondheidsversekeringsfonds sal wees om kontrakte te sluit met gesertifiseerde en geakkrediteerde openbare en privaat diensverskaffers op grond van die gesondheidsorg van gebruikers. Die fonds moet onder meer ook toepaslik gekwalifiseerde mense as werknemers aanstel, navorsing borg, omvattende dienste gratis lewer en mediese produkte van ’n redelike gehalte aankoop.

Dit klink als goed en wel, maar talle bedoelde sowel as onbedoelde gevolge skuil hier. Die kans dat die staat gesondheidsdienste by die openbare gesondheidsektor gaan “aankoop”, is bloot te dik vir ’n daalder. Die staat is reeds in beheer daarvan en feitlik almal wat tans daarvan gebruik maak, móét daarvan gebruik maak omdat hulle nie ’n ander keuse het nie. Die fonds gaan dus uitsluitlik by die privaat sektor dienste aankoop. Hierdie dienste is tans onderworpe aan markverwante pryse. Wat gebeur as die staat nie langer markverwante pryse wil betaal nie? Die probleem is die kliënt is dan ook die reguleerder en kan – soos ons nou ook met grond sien – die privaat sektor dwing om hul medisyne, personeel en dienste teen minder as markwaarde te verkoop.

En as enigiemand dink dit is vergesog dat die staat sulke bedoelings het, is daar ’n paar vrae om te beantwoord. Hoekom wil die staat hoegenaamd dienste by die privaat sektor aankoop? Wat is die staat en ANC se siening oor privaat eienaarskap in die algemeen? Wat het die gronddebat en gepaardgaande retoriek ons vanjaar al oor onteiening en die ANC se bedoelinge daaroor geleer? Eerlike antwoorde hierop, asook feite, sal gou wys dat die vasstel van die privaat sektor se pryse en boelietaktiek deur die staat ’n wesenlike realiteit is.

Nog ’n faktor om hier in gedagte te hou is die verskil tussen wat in wetgewing staan en wat in die praktyk gebeur. Die wetsontwerp se aanhef haal die Suid-Afrikaanse Grondwet en Handves van Regte aan oor die reg op menswaardigheid, gelykheid, toegang tot mediese dienste en dat niemand noodbehandeling ontsê mag word nie. Hierby kan die reg op lewe gevoeg word.

Dit klink als baie edel en belowend, maar dis nie hoe die praktyk werk nie. Is die drie babas wat gestremd gelaat is deur growwe nalatigheid in Noord-Kaapse hospitale en nou voltydse versorging en terapie benodig, se reg op menswaardigheid verwesenlik? Mense gaan uiteraard ook dood in hospitale, maar hoekom is vyf babas in die Thelle Mogoerane-streekhospitaal in Vosloorus aan die Oos-Rand hul reg op lewe ontneem weens die uitbreking van ’n voorkombare hospitaalverwante infeksie? Hierdie kinders se reg op mediese sorg is wel verwesenlik, maar hul reg op menswaardigheid en lewe is ontneem weens die staat se optrede (of gebrek daaraan). Daar is nog baie sulke gevalle. Nie net het die staat misluk daarin om te keer dat mense sterf nie, maar hul nalatigheid en onbeholpenheid het mense se dood veroorsaak.

Die registrasie van begunstigdes, hul behandeling en betaling van die fonds en die NGV-stelsel in die algemeen kom ook in die wetsontwerp aan die bod. Die gebruikers moet eers ’n proses volg deur hulself op die stelsel te registreer voordat hulle voordeel uit die stelsel kan trek. Dis nie meer genoeg om slegs jou ID-dokument te wys en by ’n staatshospitaal opgeneem te word nie. Maak maar gereed vir méér rompslomp.

Verder kan die staat ook nou besluit watter dienste jy mag kry. Indien NGV se mediese personeel en amptenary byvoorbeeld besluit dat jy nié kanker het nie (terwyl jy straks wel het) en weier dat jy ’n spesialis sien, kan jy nie self ’n afspraak maak om ’n spesialis te spreek nie. En indien die privaat sektor vou, moet jy van NGV en dus die staat se mediese dienste gebruik maak. Tweede opinies buite die stelsel gaan onmoontlik raak. Onbevoegdheid of moedswilligheid kan daarom jou of ’n geliefde van jou se dood veroorsaak.

NGV belowe terselfdertyd gratis, omvattende mediese dienste aan almal. Dit help veel indien jou keuse oor welke diens jy wil gebruik, uitgehol en misken word. Dit kan derhalwe mos nie omvattend wees nie, of hoe?

In Deel 1 van die wetsontwerp word dit onomwonde gestel dat die Fonds ’n “verpligte vooruitbetaalde gesondheidsdiensstelsel” is. Kortom (en sekerlik in die praktyk ook) beteken dit dat indien jy kán betaal, jy ook móét betaal. Die wetsontwerp swyg oor hoe en presies hoeveel jy gaan betaal – en dit is waarskynlik doelbewus gedoen omdat die opstellers nie weet wat dit gaan kos nie, of weet en net nie die slegte nuus met die publiek wil deel nie. Maar betaal gaan jy betáál. En as belastingbetaler met ’n huidige mediese fonds gaan jy die afskaffing van mediese fondse en privaat gesondheidsorg, sowel as swak staatsgeborgde mediese sorg en veel minder keuses oor jou gesondheidsorg in ruil daarvoor kry. Dis loutere waansin.

Help ons om hierdie stelsel te beveg en besoek www.jougesondheid.co.za so gou moontlik om NGV te stuit voordat dit ’n realiteit word.

*Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum