--> -->
Spyskaart +

Ware feite oor AfriForum en Malema-saak

Mei 4, 2015 deur Kallie Kriel

AfriForum neem kennis daarvan dat daar ʼn paar mense is wat op sosiale media feite verdraai en samesweringsteorieë verkondig om AfriForum in ʼn slegte lig te probeer stel. Die jongste verdraaiing van die feite oor AfriForum en TLU SA se regsaksie teen die ANC en Malema oor die “skiet die Boer”-lied, is nog ʼn voorbeeld daarvan. Skynbaar is die mense wat AfriForum aanval, meer daarop uit om AfriForum te diskrediteer, as om ons werklike opponent, die ANC, aan te vat. AfriForum se rekord van honderde aksies om vir Afrikaners ʼn beter toekoms te probeer skep, spreek vanself en ons gaan nie met ʼn paar individue in kantlyngevegte betrokke raak nie.

Vir die rekord plaas ons graag die feite oor die Malema-saak:

AfriForum en TLU SA was die enigste organisasies wat bereid was om meer as R1 miljoen aan regskostes te spandeer om Malema en die ANC tot orde te roep. Die groepie kritici het geskitter in hulle afwesigheid.

Anders as wat die kritici valslik voorhou (miskien kwaadwillig of dalk weens gebrekkige regskennis), staan regter Collin Lamont se uitspraak in die hooggeregshof steeds. Geen hof het die uitspraak omvergewerp nie. Die uitspraak staan en is gerapporteer in die hofverslae, saam met twee ander uitsprake oor die slagspreuk wat ‘n duidelike regspresedent neergelê het wat nou deur howe nagevolg moet word.

Nadat die ANC en Malema appèl teen die beslissing aangeteken het, het die hoogste hof van appèl versoek dat die partye ʼn skikkingsgesprek voer. Toe die ANC en Malema tydens die gesprekke bereid was om te erken dat sekere lirieke van sogenaamde struggle-liedjies as kwetsend ervaar kan word en onderneem het om hulle ondersteuners te begelei en aan te moedig om nie meer kwetsende liedere te sing nie, het dit AfriForum en TLU SA die geleentheid gegee om die erkenning te laat vervat in ʼn ooreenkoms wat ʼn bevel van die appèlhof gemaak is. Die ANC en Malema het daarmee al die elemente van haatspraak in ʼn hofbevel erken.

Deur die ooreenkoms het TLU SA en AfriForum juis die moontlikheid verhoed dat die appèlhof Lamont se uitspraak kon omkeer, terwyl die ANC se erkennings ook nou deel van die hofrekord is. AfriForum en TLU SA het hiermee ʼn dubbele oorwinning behaal en dit is uiters kwaadwillig van diegene wat hierdie feit verdraai.