|

Wanpersepsies oor AfriForum wyk ná jonges internskapprogram doen

Na tien dae van leer, debatteer en patrolleer is die groep geesdriftige jongmense wat aan AfriForum se internskapprogram deelgeneem het, opnuut gemotiveer om terug te ploeg in hulle gemeenskappe.

Die jaarlikse AfriForum-internskapprogram is vir die eerste keer in 2014 aangebied en het ten doel om ʼn verrykende ervaring te wees wat studente en jong werkendes blootstel aan die verskillende bedrywighede van die burgerregte-organisasie.

Tydens vanjaar se program het interns onder meer geleer hoe AfriForum en die Solidariteit Beweging se strukture werk, die geleentheid gekry om saam met AfriForum se koördineerders aan skoonmaak- en veiligheidsaksies deel te neem, woordvoerderopleiding ontvang en ’n geskiedenistoer deur Pretoria meegemaak. Hulle het ook aan die einde van die program ’n uitvoerbare projek geïdentifiseer en ʼn voorlegging in die vorm van ’n deeglike projekplan aangebied wat bemarking- en finansiële beplanning insluit.

“Die internskap is vreeslik lekker maar ook uitdagend omdat dit mens aan die diep kant ingooi,” meen Chané Venter van AfriForum Jeug se Kovsies-tak. “Ek hou van debatteer, maar is tog soms steeds skaam om voor mense te praat. Dit help egter as jy ’n voorlegging voor Kallie Kriel (uitvoerende hoof van AfriForum) moet doen en ’n gesprek met prof. Koos Malan van UP moet voer.”

Sy moedig veral mense wat ’n wanpersepsie van die organisasie het aan om aan die internskap deel te neem. “Die hoofstroommedia laat dit lyk asof AfriForum net wil baklei, maar die internskap wys dit is onwaar en dit stel mens bloot aan die al die verskillende terreine waarop die organisasie bedrywig is. Ek het gedink ek is goed ingelig, maar het ná die internskap besef ek het nog so baie om te leer.”

Drienie Bester, wat betrokke is by die Sasolburg-tak, het verlede jaar ook die internskap gedoen, maar meen sy het opnuut geleer hoe belangrik kommunikasie en beplanning is. “Ek het dit vanjaar ook baie geniet en interessant gevind om watertoetse te doen en om te leer oor ander takke en hoe hulle funksioneer.”

Sy sê die internskap het haar dikwels ook buite haar gemaksone gedwing. “Jy moet opstaan en jou sê sê, want almal wil gehoor word en ’n bydra lewer. Jy werk ook met mense met verskillende persoonlikhede, wat lekker, maar met tye ook uitdagend kan wees.”

Rudolph de Villiers, wat betrokke is by AfriForum Jeug se Maties-tak, sê hy het aan die internskap deelgeneem omdat hy wou sien wat agter die skerms gebeur en om meer oor die organisasie in geheel te leer. “Ek het die veiligheidsaksie wat ons saam met ’n buurtwag in Pretoria gedoen het baie geniet. Ons finale projek was wel taamlik uitdagend omdat ons min tyd gehad het om voor te berei, maar dit leer jou om onder druk te werk. Ek het ook na afloop van die week se opleiding geleer om met meer gemak my standpunte te stel.”

Hanno Koster van AfriForum se Vanderbijlpark-tak, sê hy het dadelik aanklank by die organisasie gevind omdat hy self ’n “doener is”.

“Die media laat mens dikwels glo dat AfriForum net moeilikheid wil maak, maar ek het egter geleer dat hulle eerder ’n verskil wil maak. Ek sal vreeslik graag eendag by so instansie wil werk omdat ek ook glo dat ’n mens nie kan terugsit en vir ander wag om ’n verskil te maak nie.”  Hy sê hy het ook die praktiese aspekte van die internskap, soos die skoonmaakaksies, baie geniet. “Ek het tydens die internskap geleer dat ’n klomp klein dade later ’n groot impak oor die langtermyn kan hê.”

“Iemand het vir ons gesê as jy nie weet waar jy vandaan kom nie, kan jy nie bepaal waarheen jy op pad is nie. Daarom was die erfenistoer deur Pretoria vir my die hoogtepunt van die internskap,” meen Marcèlle Malan, voorsitter by AfriForum Jeug se Kovsies-tak. Sy sê voorts dat sy dit geniet het om vir ’n dag skaduwerk te doen by die prokureursfirma Hurter Spies en dat sy baie geleer het oor die belangrikheid van goeie  menseverhoudings. “Ek die internskap gedoen omdat ek ’n beter voorsitter wil wees. Ek glo ek gaan dít wat ek hier geleer het weer op takvlak en ook eendag in die werkplek kan toepas.”

Sy moedig studente ook aan om betrokke te raak by AfriForum se kampusstrukture. “Studentetradisies is by baie kampusse afgewater en Afrikaanse studente voel dikwels nie welkom nie. AfriForum Jeug is juis daardie plek op kampus wat vir jou ruimte skep om tuis te voel en ingelig te wees.”

René Reichel van AfriForum Jeug se Kempton Park-tak, sê dit was vir haar lekker om mense te ontmoet wat dieselfde as sy dink en voel. Ek het besluit om betrokke te raak en die internskap te doen want ek wil ’n verskil in my gemeenskap maak. Ek dink ons baat by so internskap omdat ons bemagtig en ingelig word oor goed wat ons nie op skool of universiteit geleer is nie. Die finale opdrag was uitdagend, maar ek voel nou beter voorbereid om ’n debat te voer of my standpunt te stel.”

René meen studente en jongmense moet op takvlak by AfriForum Jeug betrokke raak omdat dit vir hulle ’n lekker en veilige bymekaarkomplek is. “Ek is ’n Unisa-student in Kempton Park, so AfriForum Jeug is my studentelewe.”

Soortgelyke plasings