| |

Wanneer mag die polisie in hegtenis neem in terme van die huidige regulasies?

Deur Marnus Kamfer

’n Persoon met ’n geldige permit om gedurende die inperking te reis, word deur die SAPD afgetrek. Hulle dring daarop aan om die bestuurder se permit te sien, wat hy onmiddellik wys. Die beampte wil dit egter nie daar laat nie en wil die voertuig ook deursoek. Aangesien die bestuurder niks het om weg te steek nie, gee hy toestemming. Die beampte deursoek die voertuig, maar vind niks wat hy kan gebruik om die bestuurder opdraande te gee nie. Hy vind egter ’n ou stel koedoehorings wat die bestuurder gebruik om ramshoringblaasinstrumente mee te vervaardig. Duidelik gefrustreerd, staan die beampte vir ’n oomblik besluiteloos rond, maar besluit tog om die bestuurder te arresteer vir die besit van “ivoor”.

In dieselfde tyd stap ’n man met sy gesin in die toegelate tyd (06:00 tot 09:00) 400 meter van sy huis af. Sy dogtertjie van sowat twee jaar oud hardloop skielik tot op die strand en die pa is agterna om haar te keer. Hiervoor word hy gearresteer.

Nog meer onlangs versprei ’n videogreep soos ’n veldbrand op sosiale media waarin dit lyk of wetstoepassingsbeamptes poog om ’n kleuter te arresteer wat by ’n woonkompleks uitgehardloop het.

Ek staan verstom. En dié is maar net ’n paar van die voorvalle wat onlangs jou hare laat rys het. Dít skep die gevoel dat wetstoepassingsbeamptes tans dronk is van mag en klaarblyklik óf weier om die regulasies self te lees óf totaal onkundig is daaromtrent.

Die vraag ontstaan nou egter, waarvoor kan ek gearresteer word ingevolge die huidige regulasies?

Die oortredings en sanksies van dié regulasies word in die Rampbestuurswet vir vlak 4 se regulasies 14 en 31 behandel. Regulasie 14 bepaal dat, indien ’n persoon op enige platform, sosiale media inkluis, vals of bedrieglike inligting versprei rondom COVID-19, die COVID-19-infeksiestatus van enige persoon, of enige stappe wat deur die regering gedoen word om die pandemie die hoof te bied, skuldig is aan ’n misdryf en tot ses maande gevangenisstraf en/of ’n boete opgelê kan word. Dus kan die verspreiding van fopnuus jou agter tralies laat beland.

Dit is voorts ’n misdryf indien ’n persoon enige inligting op die COVID-19-opsporingsdatabasis (wat inligting oor mense bevat wat moontlik met iemand in aanraking was wat positief vir COVID-19 getoets het) sonder magtiging versprei of dit verkeerd hanteer. Dit is ook ’n misdryf om nie gehoor te gee nie aan versoeke van die Direkteur-generaal van Gesondheid oor die verskaffing van toepaslike inligting van persone wat moontlik in aanraking was met iemand wat positief vir COVID-19 getoets het. Benewens ’n boete kan dié oortredings jou tot ses maande agter tralies laat beland.

Enige persoon wat by ’n onregmatige byeenkoms betrokke is of met ’n wetstoepassingsbeampte se take inmeng of dit verhinder, kan ook gearresteer word. Dit is voorts ook ’n misdryf om sonder ’n geldige rede jou huis tussen 20:00 en 05:00 te verlaat of om provinsiale, metropool- of distriksgrense oor te steek.

Niemand mag gedurende vlak 4 by sy/haar woning uitgesit word nie, behalwe as ’n hof dit nodig ag. Regulasie 24 dui aan dat plekke soos vakansie-oorde, dobbelhuise en nagklubs gesluit moet bly. Oortreders kan gevolglik strafregtelik vervolg word. Die verkoop en/of verspreiding van drank en tabakprodukte is ook ’n strafbare oortreding waarvoor jy beboet en óók tot ses maande tronk toe gestuur kan word. Dieselfde lot geld vir winkels wat nietoelaatbare produkte verkoop.

Jy mag nie gearresteer word indien jy nie ’n masker dra nie. Ondernemings of winkels wat nalaat om handreiniger beskikbaar te stel, versuim om te verseker dat ’n sekere afstand gehandhaaf word of nie voldoende toegangsbeheer toepas nie, kan nie strafregtelik vervolg word nie. Dit word ook nie as ’n misdryf geklassifiseer indien werkgewers versuim om werknemers van handreiniger te voorsien of om nie ’n COVID-19-plan in werking te stel nie.

Indien persone wel vir laasgenoemde voorvalle gearresteer word, staar die betrokke owerheid ’n siviele eis in die gesig.

Besoek www.afriforum.co.za vir meer COVID-19-nuus.

Soortgelyke plasings