Waarskuwing deur wêreldmagte wys Ramaphosa kan hulle nie mislei rakende eiendomsreg en misdaad


Die waarskuwing wat die VSA, VK, Duitsland, Nederland en Switserland in ’n memorandum aan president Cyril Ramaphosa gerig het rakende die bedreiging wat misdaad, twyfel oor eiendomsreg en korrupsie vir buitelandse beleggings inhou, is volgens AfriForum die sterkste aanduiding nóg dat die buiteland nie om die bos gelei word deur die mooi prentjie wat Ramaphosa aan hulle probeer voorhou nie. Dít terwyl hy in teenstelling daarmee plaaslik openlik aandui dat onteiening sonder vergoeding ’n gegewe is en weinig gedoen word om korruptes en geweldsmisdadigers agter tralies te kry. Dié vyf lande wat ’n gesamentlike memorandum oor hulle kommer aan Ramaphosa gestuur het, verteenwoordig die oorsprong van 75% van direkte buitelandse beleggings in Suid-Afrika.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het die hoop uitgespreek dat Ramaphosa nou sal besef dat hy met vuur speel om homself, ter wille van sy eie posisie in die ANC, te laat meesleur deur disrespek vir eiendomsreg, verdraagsaamheid teenoor korruptes in die ANC se eie geledere en ongevoeligheid rakende die plaasmoordkrisis en haatspraak in die land.
Kriel het daarop gewys dat sy organisasie sy internasionale veldtog om die buiteland in te lig rakende die bedreiging – wat onteiening sonder vergoeding, korrupsie en geweldsmisdaad soos plaasmoorde inhou – volstoom sal voortsit, totdat die regering van sy disrespek vir eiendomsreg afsien en erns daarvan maak om misdadigers agter tralies te laat beland.

Soortgelyke plasings