Spyskaart +

Waarom AfriForum nie mense by die Internasionale Strafhof aankla nie

Junie 26, 2017 deur Guido Urlings

 

AfriForum ontvang gereeld versoeke van lede om sake by die Internasionale Strafhof (dikwels ook die Wêreldhof genoem) aanhangig te maak, of vrae oor waarom AfriForum dit nog nie gedoen het nie. Hierdie kort blog verduidelik hoe die Internasionale Strafhof werk en waarom ons nie sake of mense by dié Hof aankla nie. 

Honderd-en-twintig state het op 17 Julie 1998 die Statuut van Rome aanvaar wat op 1 Julie 2002 in werking getree het en die hof se funksies, jurisdiksie en struktuur vestig. Dié blog fokus op die hof se funksies en jurisdiksie.

Artikel 5 van die Statuut bepaal dat die Hof se jurisdiksie beperk is tot die ernstigste misdade wat die hele internasionale gemeenskap as geheel raak. Die Hof het dus jurisdiksie ten opsigte van misdaad van volksmoord, misdade teen die mensdom, oorlogsmisdade en die misdaad van aggressie. Hierdie misdade word verder in artikels 6, 7 en 8 omskryf, asook in die 2010-wysiging in die geval van die misdaad van aggressie. Kom ons kyk na die misdaad van volksmoord en misdade teen die mensdom, want dit is dié twee misdade waarna lede van die publiek dikwels verwys wanneer hulle ons vra om sake aanhangig te maak.

Volgens artikel 6 sluit volksmoord een van die volgende dade in wat gepleeg word met die doel om ’n nasionale, etniese, ras- of godsdienstige groep te vernietig:

  • om lede van so ’n groep dood te maak;
  • om ernstige liggaamlike of geestelike skade aan lede van die groep te doen;
  • om die groep opsetlik aan lewensomstandighede te onderwerp wat daarop gemik is om dié groep se fisiese vernietiging in geheel of gedeeltelik te bewerkstellig;
  • om maatreëls toe te pas wat bedoel is om geboortes binne dié groep te voorkom; en
  • om kinders van dié groep aan ‘n ander groep te gee.

Misdade teen die mensdom kom neer op een van die volgende dade wat gepleeg word as deel van ’n wydverspreide of stelselmatige aanval wat teen enige burgerbevolking gerig is en daar kennis van dié aanval gedra word:

  • moord;
  • uitwissing;
  • slawerny;
  • deportering of gedwonge verskuiwing van bevolking;
  • gevangenisstraf of ander ernstige ontneming van fisiese vryheid wat in stryd is met die internasionale reg se fundamentele reëls;
  • marteling;
  • verkragting, seksuele slawerny, gedwonge prostitusie, gedwonge swangerskap, gedwonge sterilisasie of enige ander vorm van seksuele geweld van soortgelyke erns;
  • vervolging van enige identifiseerbare groep of gemeenskaplikheid op grond van politiek, ras, nasionaliteit, etnisiteit, kultuur, godsdiens, geslag of ander gronde wat algemeen ingevolge internasionale reg as ontoelaatbaar erken word, in verband met enige aksie waarna daar in hierdie paragraaf verwys word, of enige misdaad wat binne die jurisdiksie van dié Hof val;
  • gedwonge verdwyning van persone;
  • die misdaad van apartheid; en
  • ander onmenslike dade van ’n soortgelyke aard wat opsetlik groot lyding, ernstige liggaamlike besering of geestelike of fisiese gesondheid veroorsaak.

Die eerste hindernis is die lang debat wat handel oor die vraag of een van bogenoemde misdade wel in Suid-Afrika gepleeg is of nie. Indien dit wel die geval is en mens dit sou kon bewys, is die tweede hindernis onoorkombaar vir AfriForum: die uitoefening van die Hof se jurisdiksie, soos wat dit in artikel 13 uiteengesit word. Dié artikel verduidelik dat die Hof sy jurisdiksie slegs kan uitoefen as een van die volgende drie vereistes nagekom word:

  1. As een of meer van die bogenoemde misdade blykbaar gepleeg word, word dit deur die Staatsparty ooreenkomstig artikel 14 na die Hof se aanklaer verwys.
  2. As een of meer van dié misdade blykbaar gepleeg is, verwys die Verenigde Nasies (VN) se Veiligheidsraad die aangeleentheid na die Hof se aanklaer ingevolge hoofstuk VII van die VN-handves.
  3. Die Hof se aanklaer het ’n ondersoek na so ’n misdaad ingevolge artikel 15 geloods.

Hoewel die derde vereiste – wat in artikel 15 verduidelik word – wel aan nieregeringsorganisasies soos AfriForum geleentheid bied om die Hof se aanklaer van inligting te voorsien wat tot ‘n ondersoek en daaropvolgende vervolging kan lei, plaas die vereiste ook groot klem op die staat se eie nasionale owerhede en hul vermoë en bereidwilligheid om ’n soortgelyke ondersoek en moontlike vervolging van stapel te stuur.

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens, die Nasionale Vervolgingsgesag en howe is egter steeds tot groot mate doeltreffend (hoewel dit soms disfunksioneel voorkom) en dit is daarom onwaarskynlik dat die Hof se aanklaer voldoende redes vir ’n hofondersoek en vervolging sal vind. AfriForum kan tans slegs nasionale middele gebruik wat tot die organisasie se beskikking is. Om die ingryping van die Hof se aanklaer te versoek, sal net lei tot ’n onbetroubare beeld van AfriForum by dié instelling – wat weer toekomstige pogings kan pootjie. AfriForum bly nietemin bewus van die lewenslyn wat dié Hof bied. Sou nasionale instellings wél tot onaanvaarbare vlakke verswak, sal AfriForum genoop wees en toegelaat word om die Hof te nader.