| |

Vyf rowers ná jaagtog in hegtenis geneem

Lede van AfriForum het op Saterdag 21 September 2019 gehelp om vyf gewapende rowers in hegtenis te neem ná ’n jaagtog van meer as 130 km.

Acsu Sekuriteit in Ermelo het hulp ontbied ná hulle die rowers tydens ’n winkelplundering op heterdaad betrap het en die rowers op hulle begin skiet het. Die rowers het in ’n wit Jeep Grand Cherokee in Bethal se rigting op vlug geslaan.

Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld, was toevallig op die regte plek toe een van Acsu se bestuurders hom gekontak het. Bekker het die Bethal-polisie onmiddellik in kennis gestel, maar hulle kon nie betyds op die toneel wees nie.

“Drie minute ná die eerste oproep het ek die verdagte voertuig opgemerk en dit agternagesit. Die voertuig het op die N17 deur Bethal in die rigting van Trichardt gejaag. Tydens die jaagtog was ek in gereelde kontak met die Secunda-polisie, in die hoop dat hulle die pad voor kon afblok. Lede die van Bethal-GPF het ook gehelp om verdere hulp te reël,” sê Bekker.

Daar was egter geen keer aan die voortvlugtiges nie en die Jeep het in Delmas se rigting voortgejaag. Jaco Horn van GTR-insleepdienste het toe by die jaagtog aangesluit. “Ek en mnr. Horn het die voertuig verder in die rigting van Delmas sonder enige polisiehulp agternagesit. Die rowers het ook op ons geskiet,” sê Bekker.

Intussen kon Bekker daarin slaag om met behulp van Henry Geldenhuys met die Delmas-polisie kontak te maak. Bekker het ook AfriForum se Delmas Valke- en Eloff-buurtwagte van die voortvlugtendes in kennis gestel.

Nadat lede van die Delmas-polisie en die AfriForum-buurtwagte by die jaagtog aangesluit het, kon die span uiteindelik daarin slaag om die voertuig tussen Delmas en Bapsfontein tot stilstand te dwing. Vyf mense is in hegtenis geneem en die voertuig is deursoek. Klere ter waarde van meer as R100 000 is in die voertuig gevind. Die voertuig word ook aan sewe ander rooftogte tussen Gauteng en Mpumalanga verbind.

“Hierdie is weer eens bewys dat samewerking tussen verskeie organisasies en die SAPD krities is en dat groot suksesse behaal kan word,” sê Carel Botha, voorsitter van AfriForum se Delmas-tak.

Help ons om ons omgewing te beveilig: SMS “veilig” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings