Vuurwapenlisensies: Hofbevel tersyde gestel – hoe nou?

Deur Marnus Kamfer

 

Menige vuurwapenlisensiehouers van vervalde wit vuurwapenlisensies is in rep en roer ná die Hoogste Hof van Appèl ’n tussentydse hofbevel – wat dié lisensiehouers beskerm het – op 23 Julie 2020 ter syde gestel het.

Dié tussentydse hofbevel, wat op 27 Julie 2018 deur die Hooggeregshof uitgereik is, het bepaal dat persone met wit vuurwapenlisensies wat verval het hangende die hoofaansoek steeds in wettige besit van hul vuurwapens was. Die Hoogste Hof van Appèl het voorts aangedui dat die hoofaansoek se kans op sukses baie skraal is.

Dit laat eienaars met wit lisensies wat verval het nou in ’n baie netelige posisie. Omdat die lisensie verval het en die hofbevel wat hulle tot dusver beskerm het ter syde gestel is, is dié eienaars ingevolge artikel 3 van die Wet op die Beheer van Vuurwapens 60 van 2000, saamgelees met artikel 24, 27 en 28 vir alle praktiese doeleindes in onwettige besit van hul vuurwapens.

Daar is egter stééds hoop. Polisieminister Bheki Cele het – ná baie druk van sowel die burgerlike samelewing as organisasies wat dié burgers verteenwoordig – ’n aansoek vir ’n verdere vuurwapenamnestie ingevolge artikel 139 van die bogenoemde wet by die parlement ingedien. Die finale oorweging lê nou by die Nasionale Vergadering, waarna die amnestieperiode (indien goedgekeur) in die Staatskoerant afgekondig sal word. Daar word verwag dat die amnestieperiode van Augustus 2020 tot Januarie 2021 sal strek.

Dit skep die geleentheid vir vuurwapeneienaars met lisensies wat verval het om dié vuurwapens by hul naaste polisiekantoor in te handig (sonder om vervolg te word vir die besit van sodanige vuurwapens. Hierdie toegewing word vervat in artikel 139(3)(a). Eienaars kan voorts ook ingevolge artikel 139(4) weer vir vuurwapenlisensies vir die ingehandigde vuurwapen aansoek doen. Indien die aansoek suksesvol is, kan die eienaar die vuurwapen weer by die polisiekantoor gaan afhaal. Indien die persoon egter nie vir die lisensie aansoek doen nie, moet die vuurwapen ingevolge artikel 136 deur die staat vernietig word.

Vuurwapeneienaars wat van die amnestie gebruik maak en weer vir ’n lisensie aansoek doen om die ingehandigde vuurwapen in besit te mag hê, word aangemoedig om van ’n deskundige gebruik te maak om hulle met die aansoekproses te ondersteun om die kanse op ’n suksesvolle aansoek beduidend te verbeter.

Waar laat dit houers van groen lisensies wat ingevolge die Wet op Wapens en Ammunisie 75 van 1969 (die ou wet) uitgereik is?

Ook hier is daar ’n hoofaansoek wat nog op die hofrol moet dien en is daar ook ’n tussentydse bevel uitgereik wat bepaal dat vuurwapeneienaars met groen lisensies geag word om in wettige besit van hul vuurwapens te wees. Dié bevel geld sedert 2009. Vuurwapeneienaars wat op dié bevel steun, moet egter twee belangrike oorwegings in gedagte hou:

  1. Slegs houers in besit van die groen lisensie wat nooit na die nuwe wet (Wet op Beheer van Vuurwapens 60 van 2000) se wit lisensie oorgeskakel het nie, kan op die beskerming van dié tersaaklike bevel aanspraak maak.
  2. Daar is geen waarborg dat hierdie tussentydse bevel sonder einde gaan staan of dat die hoofaansoek gaan slaag nie.

Die SAPD het nie die vermoë om betyds na misdaadtonele te gaan nie. Met plaasaanvalle en -moorde, huisinbrake en besigheidsrooftogte aan die orde van die dag rus die verantwoordelikheid om jou en jou gesin te beskerm op net een persoon – jouself. Dit is egter belangrik om jouself binne die raamwerk van die wet te bewapen.

Vind maniere om jouself betyds daaraan te herinner dat jou vuurwapenlisensies en bevoegheidssertifikate hernu moet word. Herinner jou vriende en familie om gereeld te kyk wanneer hul lisensies verval en om seker te maak dat die hernuwingsaansoeke ten minste 90 dae voor die lisensie verval ingehandig word. Maak staat op kundiges om met jou aansoek te help. Moedig mense wie se wit lisensies reeds verval het aan om, ongeag die beslommernis, van die amnestieproses gebruik te maak en weer aansoek vir vuurwapenlisensies te doen.

Onthou: As jy jouself kan beskerm, kan jy jou gesin beskerm; as jy jou gesin kan beskerm, kan jy jou buurmense beskerm; as bure mekaar beskerm, word ’n gemeenskap beveilig.

 

Soortgelyke plasings