|

Vrystaatse dokters uiteindelik betaal

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

AfriForum het verlede week die betaling van agterstallige salarisse van drie dokters by die Nala-distrikshospitaal in die Vrystaat suksesvol verseker.

Dokters by díe hospitaal in Bothaville het glo sowat vier maande laas salarisse gekry en het sedertdien gestaak.

Nadat die hospitaalbestuur onderneem het om die agterstallige salarisse teen Donderdag 2 Julie te betaal, en dit teen middel Julie nog nie gedoen het nie, het AfriForum ’n brief aan die LUR vir gesondheid in die Vrystaat gestuur en dringende optrede geëis.

Weens die druk wat AriForum op die LUR geplaas het, het drie dokters hul volle agterstallige salarisse verlede week gekry. Een van hulle se situasie was ingewikkeld in die sin dat hy nie betaal is nie, maar in 2013 volgens die department te veel betaal is.

“Ons het vertroulik verneem dat van die dokters vier maande laas betaal is en dat hulle geen idee gehad het wanneer hulle weer betaal sou word nie. Dit is skokkend dat spesialiste wat lewensnoodsaaklike dienste lewer, nie betaal word nie. Die hospitaal se laksheid maak ook inbreuk op die gemeenskap se grondwetlike reg tot gesondheidsdienste,” het Johann Hattingh, AfriForum se provinsiale koördineerder vir die Wes-Vrystaat, gesê.

Hoewel die dokters te na gekom is, meen Hattingh dat hulle nie by magte is om te staak nie.

“Die Wet op Arbeidsverhoudinge verbied diegene wat noodsaaklike dienste lewer om aan stakings deel te neem. Dit is wel onredelik om te verwag dat werknemers vir maande moet werk sonder vergoeding.”

Lente van Zyl, AfriForum se takvoorsitter in Bothaville, het aan Forum Nuus gesê dat die dokters gefrustreerd was oor die onduidelikheid rakende hul agterstallige salarisse. “Hulle het bymekaar gestaan en gesê dat die gebrek aan kommunikasie die grootste rede vir hul staking was. Daar is nooit aan hulle verduidelik hoekom hulle nie betaal is nie.”

Sy het ook beklemtoon hoe belangrik dokters in die gemeenskap is waar hulle lewensnoodsaaklike dienste lewer. “Tydens die dokters se staking was daar ’n ernstige busongeluk sowat 10 km buite Bothaville en sowat 60 passasiers, asook die busbestuurder, is toe na die Nala-distrikshospitaal gestuur. Die busbestuurder was ernstig beseer en die tekort aan dokters het ’n impak gehad op hoe vinnig pasiënte gehelp kon word.”

Een van die dokters, wat anoniem wil bly, het ook aan Forum Nuus gesê dat die agterstallige betalings hom baie ontstel het en sy werksomstandighede moeilik gemaak het. “Dit gaan my verstand te bowe dat die regering kan toelaat dat sy werknemers vier maande sonder salaris moet werk.”

Van Zyl het gesê sy is bly dat AfriForum die dokters kon bystaan en help om met hul belangrike werk voort te gaan.

Soortgelyke plasings