Vryburg se drinkwater onveilig


Die AfriForum-tak in Vryburg het dié dorp se drinkwater by ’n laboratorium laat toets nadat verskeie mense hul kommer oor die watergehalte uitgespreek het.

Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland, spruit die probleem moontlik uit die waterpompe wat gereeld buite werking is en veroorsaak dat die reservoir se watervlak deurgaans laag is. Die plaaslike munisipaliteit het klaarblyklik ook nie geld om dié pompe te herstel nie. AfriForum se Vryburg-tak het al onderdele voorsien om sommige van die pompe te herstel, maar die pompe bly onklaar raak weens ’n gebrek aan instandhouding.

“Alhoewel vlakke van E. Coli- en fekale kolivormige bakterieë in Vryburg se drinkwater laag is, is dit steeds groot rede tot kommer aangesien daar volgens SANS:214 se nasionale standaarde geen E. coli in drinkwater mag voorkom nie. Inwoners word aangeraai om water te kook voor hulle dit drink of in voedsel gebruik,” maan Pretorius.

Die plaaslike AfriForum-tak het die inwoners en die munisipaliteit van die situasie in kennis gestel en sal voortaan druk op die munisipaliteit plaas om die drinkwater te laat suiwer en die waterpompe te herstel en in stand te hou.

Soortgelyke plasings