Vryburg-drinkwater onveilig, waarsku AfriForum


Die AfriForum-tak in Vryburg het drinkwater in dié dorp by ’n laboratorium laat toets. Die uitslae dui daarop dat Vryburg se drinkwater nie vir menslike gebruik geskik is nie. E. coli-vlakke word in kolonievormende eenheid (KVE) gemeet en moet 0 KVE/ml wees, maar die toetse wys op 16 KVE/ml. Fekale koliforme, wat minder as 10 KVE/ml moet wees, is 66 KVE/ml. Die gemeenskap word gevolglik versoek om geensins kraanwater te drink nie. As dit nie anders kan nie, moet hulle die water voor gebruik behoorlik kook.
Die situasie is onder die Naledi Plaaslike Munisipaliteit se aandag gebring en Leon Pretorius, in beheer van die munisipaliteit se watersake, het te kenne gegee dat hy dadelik aan die situasie aandag sal gee. Sedibeng Water is ook ontbied om water in die reservoir te toets.

“AfriForum is bekommerd oor die gehalte van die drinkwater in Vryburg. Dit is die munisipaliteit se plig om skoon water aan die gemeenskap te voorsien. AfriForum plaas druk op die munisipaliteit ten einde hierdie ernstige saak reg te stel,” sê Alta Pretorius, AfriForum se streekskoördineerder vir Stellaland.

Die AfriForum-tak in Vryburg het vandeesweek dié dorp se drinkwater getoets as deel van die organisasie se jaarlikse blou-en-groendruppelprojek.
Raak by jou plaaslike AfriForum-tak betrokke: SMS “Vryburg” na 45340 (R1).

Soortgelyke plasings