|

Vrou sal marteling en verkragting tydens plaasaanval nooit vergeet

’n Ma van drie wat in Maart 2018 in Hankey in die Oos-Kaap tydens ’n plaasaanval geskiet en verkrag is, sê sy en haar kinders sal nooit ooit weer dieselfde wees of na hul plaas kan terugkeer nie.

Die 44-jarige vrou het vandag op ’n nuuskonferensie van AfriForum in Centurion die gebeure tydens die nag van hel herroep. “Die marteling was onbeskryflik. Die aanvaller het skote deur ons glasdeur geskiet wat my oudste rakelings gemis het.

“Hy het ons met binddraad vasgemaak en gesê as hul pa by die huis was, sou hy hom voor ons opgekap het.”

Volgens die vrou het sy aanhoudend gesmeek dat die aanvaller haar en haar dogter nie moet verkrag nie. Hy het egter onverbiddelike woede teenoor hulle getoon. “’n Mense gee nie om oor jouself nie, maar jy wil nie hê jou kinders moet doodgaan nie. Vir my is die ergste dat ek nooit weer my kinders se onskuld aan hulle sal kan teruggee nie.”

Die slagoffer het gesê haar man is nou alleen op die plaas, maar hulle is in die proses om van hul plase te verkoop. “Ons sien hom nou net naweke, maar ons sal weer as gesin bymekaar moet wees.”

Sy het gepraat oor die rimpeleffek wat plaasmoorde en -aanvalle op alle mense, ook werkers op plase, in die land het. “Ons eie mense is getraumatiseerd en wil weet wanneer ons terugkom. Hulle is ook bekommerd oor of hul werk in die toekoms gaan hê.”

Die aanvaller, Sebenzile Simane, het vandeesweek in die hooggeregshof in Port Elizabeth op ’n rits aanklagte verskyn waarop hy skuld ontken het. Die DNS van dié voormalige plaaswerker stem egter ooreen met die DNS wat op die toneel gevind is.

Simane het die vrou geskiet en haar voor haar dogter verkrag. Sy het geld aan hom gegee in die hoop dat hy hulle sou laat gaan en in ’n stadium het sy selfs met hom na ’n OTM gery om nog geld te trek nadat hy nie haar voertuig aan die gang kon kry nie.

AfriForum, wat die vrou bystaan, het die organisasie se jongste plaasaanval- en -moordstatistieke ook vandag bekend gemaak. Sedert begin vanjaar tot einde Mei was daar 184 aanvalle en 20 moorde.

Ian Cameron, hoof van AfriForum se gemeenskapsveiligheid, het gesê die moorde en aanvalle het veral oor Paasnaweek en in Mei drasties toegeneem. In Mei alleen was daar nasionaal 51 aanvalle en 4 moorde.

Daar is ook aanduidings dat die Wes-Kaap toenemend onder aanvalle en moorde deurloop. In die jongste voorval is Stefan Smit, eienaar van die wynlandgoed Louisenhof, buite Stellenbosch in sy huis ten aanskoue van sy vrou en ’n vriendin doodgeskiet. Daar word wyd bespiegel dat sy moord verband hou met onwettige grondbesettings op sy grond nadat hy ook vroeër doodsdreigemente gekry en ’n lyfwag aangestel het.

Cameron meen daar kan inderdaad gevra word of die moord op Smit nie dalk voorkom kon geword het nie indien daar daadwerklik en vinnig opgetree is teen die onwettige grondbesetters nie.

Cameron het ook verwys na die gebruik van vuurwapens in die aanvalle en moorde om te illustreer dat baie van die dade nie bloot aan opportunistiese optrede deur aanvallers toegeskryf kan word nie, maar eerder weldeurdag en goed beplan is. In altesame 115 van die 184 voorvalle is vuurwapens gebruik en dit het nie noodwendig aan die slagoffers behoort nie.

Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, het na van die mees onlangse wrede aanvalle en moorde soos die een op Annette Kennealy van Louis Trichardt verwys en gesê terwyl dit voortduur ontken pres. Cyril Ramaphosa en die regering die krisis en gaan invloedryke politici boonop voort om liedere te sing waarin gevra word dat boere vermoor word. “Die stilte van die president en regering en hul ontkenning van die probleem teenoor die buiteland, maak hulle aandadig aan die aanvalle en moorde.”

Roets het beklemtoon dat ’n enkele motief nie vir die moorde of aanvalle uitgesonder kan word nie, maar dat daar ook nie ontken kan word dat dit soms polities gemotiveerd is of met kwessies soos arbeidsgeskille verband hou nie. “Dit is ’n uiters komplekse fenomeen en dit vereis ’n eiesoortige ingryping en optrede om ’n einde hieraan te bring. Elke redelike mens in die land behoort hieroor besorg te wees, want dit raak een en elk van ons.”

Soortgelyke plasings