|

Só vorder Gerrie Nel se privaatvervolgingseenheid met sake

Terwyl daar meer as 200 sake op adv. Gerrie Nel se tafel lê vir moontlike privaatvervolging, is heelwat vordering in die afgelope maande in van die hoë profielsake gemaak.

AfriForum pak bepaalde sake aan om te verhoed dat die regstelsel gemanipuleer en selektiewe vervolging toegepas word. Dít is tans die stand van sake:

Grace Mugabe

Die diplomatieke immuniteit wat verlede jaar aan Grace Mugabe, die vrou van oudpres. Robert Mugabe toegestaan is, is amptelik teruggetrek ná ’n suksesvolle hofaansoek wat AfriForum in die hooggeregshof gebring het.

Weens die verlening van diplomatieke immuniteit aan haar, kon die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) nie die klagtes teen Mugabe van aanranding met die doel om ernstig te beseer verder ondersoek nie. Die weg is egter nou oop om Mugabe te vervolg vir die beweerde aanranding op Gabriella Engels. Mugabe het haar verlede jaar in Augustus in ’n hotelkamper in Sandton met ’n elektriese koord aangerand omdat sy ontevrede was oor haar twee seuns se eskapades.

Ndebele Vaaltyn-stam

Die stam het in 2014 strafregtelike klagtes teen die Kanadese mynmaatskappy Ivanplats Myne Bpk., wat deur die miljardêr en mynmagnaat Robert Friedland besit word, aanhangig gemaak. Die klagtes hou verband met onwettige mynbedrywighede, oortreding van omgewingswetgewing en die onregmatige en oënskynlike kulturele oneerbiedige hervestiging van die stam se historiese en voorvadergrafte.

Die stam het AfriForum in Maart genader omdat hulle vermoed dat Ivanplats moontlik ongeregverdigde beskerming deur staatsamptenare geniet.

Adv. Nel oorweeg privaatvervolging om gelykheid voor die reg te verseker en dat die regsoewereiniteit seëvier.

Die mynmaatskappy het ook lede van die stam van sy stamgebonde opstal hervestig om plek te maak vir ’n nuwe stormwaterdrein. AfriForum is meegedeel dat ’n ondersoek deur die openbare beskermer se Limpopo-kantoor bevind het dat Ivanplats nie ’n aansoek om toestemming geloods het om die stormwaterdrein in sy mynuitlegplan in te sluit nie. Die Kekana Koninklike Familie is gekant teen die hervestiging van grafte en die hervestiging van inwoners sonder dat die nodige stappe gevolg word. Dit behels dat Ivanplats die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming moet kontak om ’n proses in werking te stel om stamresolusie en ministeriële instemming te bekom.

Alexis Bizos

AfriForum het in Februarie aangekondig hy wil Alexis Bizos, seun van die wêreldberoemde menseregte-advokaat, George Bizos, privaat vervolg. Dit het gevolg nadat Bizos sy vrou, Monique van Oosterhout, in Maart 2015 glo verskeie kere aangerand is en die NVG geweier het om hom te vervolg.

AfriForum is van mening die NVG wou nie die saak verder voer nie, weens Bizos se politieke verbintenisse.

AfriForum het aansoek vir ’n nolle prosequi-sertifikaat gedoen maar die NVG wou dit nie in die geval uitreik nie. ’n Vorige nolle prosequi-sertifikaat is daarna op 11 September 2015 deur die NVG uitgereik. Aansoek is vir die heruitreiking van die sertifikaat gedoen wat die NVG geweier het. AfriForum is nou besig met voorbereidings om hof toe te gaan om die NVG met ’n mandamus-aansoek te dwing om die sertifikaat uit te reik.

Duduzane Zuma

Volgehoue druk deur AfriForum het ná ’n jaar daartoe gelei dat die NVG besluit het om Zuma Jr., seun van oudpres. Jacob Zuma, wel te vervolg op ’n strafregtelike klagte van strafbare manslag. Die saak spruit uit ’n voorval in Februarie 2014 waartydens Zuma Jr. ’n motorongeluk veroorsaak het waarin Phumzile Dube op slag dood is. Adv. Nel het besluit om die Dube-gesin by te staan nadat hulle AfriForum genader het. Die saak word op 26 Oktober in die landdroshof in Randburg hervat.

Adv. Nomgcobo Jiba

AfriForum en adv. Nel het in November 2017 aangekondig om adv. Nomgcobo Jiba, ’n voormalige hoof van die NVG, privaat te vervolg. AfriForum se privaatvervolgingseenheid tree namens genl.maj. Johan Booysen, voormalige hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, op en wil Jiba vir bedrog en meineed vervolg. Jiba is allerweë bestempel as iemand wat in oudpres. Zuma se binnekring was. Die Noord-Gautengse hoë hof het in Desember 2017 beslis dat die NVG se besluit om Jiba nie te vervolg nie onregmatig was.

AfriForum het sy pols op die saak en indien die NVG nie binne ’n redelike tyd besluit om Jiba te vervolg nie, sal aansoek om ’n nolle prosequi-sertifikaat gedoen word. As die NVG nie die sertifikaat wil uitreik nie, sal ’n mandamus-aansoek gebring word om die staat te dwing om sy werk te doen.

Thandi Modise

AfriForum en die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) is besig om Thandi Modise, voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP), privaat te vervolg vier jaar nadat talle diere op haar plaas buite Potchefstroom gevrek het weens verhongering en mishandeling.

Die NDBV het in Julie 2014 ’n klagte ontvang en op een van die wreedste gevalle van dieremishandeling wat die welsynsorganisasie nóg teëgekom het, afgekom. Die NDBV het ingevolge die Wet op Verenigings vir die Voorkoming van Dieremishandeling (wetno. 169 van 1993) die statutêre magte om oortreders privaat te vervolg.

Adv. Nel het verduidelik dat hierdie ’n ander vorm van privaat vervolging is waarby AfriForum betrokke geraak het. In die ander sake wat AfriForum aanhangig gemaak het, is artikel 7 van die Strafproseswet ter sprake. In Modise se geval is artikel 8 van die Strafproseswet ter sprake. Ingevolge dié wet kan die NDBV privaat vervolg en is dit slegs nodig om die direkteur van openbare vervolging van hul besluit te verwittig.

AfriForum het reeds die oorspronklike dossiere van die polisie gekry en is tans met verdere ondersoekwerk besig.

Julius Malema

AfriForum gaan Julius Malema privaat vervolg indien die NVG dit nie doen nie.

Die vervolging hou verband met beweerde korrupte bedrywighede van die maatskappy On-Point Engineering in Limpopo. On-Point, waarby Malema se familietrust ’n belang het, was aangestel om die Limpopo departement van paaie en vervoer in 2009 met infrastruktuurontwikkeling, -onderhoud en -beplanning te ondersteun en het omkoopgeld van suksesvolle tenderaars ontvang wat vir dié doel aangestel is.

AfriForum het reeds op 24 Julie 2011 ingevolge die Wet op die Voorkoming en Bestryding van Korrupte Bedrywighede, 2004 (wetno. 12 van 2004) ’n klagte in verband met On-Point se korrupte bedrywighede teen Malema by die Brooklyn-polisiestasie in Pretoria ingedien. Die NVG het begin om Malema te vervolg, maar die saak is daarna van die rol geskrap.

AfriForum het in Maart ’n skrywe aan dié staatsagentskap gestuur waarin die saak se herinstelling geëis word. Die NVG het AfriForum in reaksie hierop skriftelik ingelig dat die herinstelling van die klagtes teen Malema tans oorweeg word.

Benewens die korrupsiesaak is AfriForum ook met twee ander sake teen Malema besig wat verband hou met voorvalle waar hy sy ondersteuners aangehits het om grond te beset. Hy moet weer in Junie 2019 in die hof verskyn.

Soortgelyke plasings