Header Artwork
Voorkom boeliegedrag/afknouery met ’n positiewe skoolklimaat en -kultuur

Deur Leandie Bräsler

AfriForum se teenboelieveldtog ondersteun en onderskryf die vernuwing van ’n gesonde en veilige skoolklimaat, -kultuur en -omgewing as ’n strategie om boelies en ander vorme van skoolgeweld te voorkom. Die veldtog fokus ook op langtermynoplossings soos die vermindering van skooldruipelinge, asook om die skoolverband in geheel te verbeter en leerders te bemagtig om op akademiese vlak en in ander velde te presteer.

Afknouery/boeliegedrag

Afknouery, oftewel boeliegedrag, is ’n probleem waarmee onderwysers op ’n daaglikse basis te doen kry en dit is ’n uitdagende taak om maniere te vind om dit te voorkom juis omdat dit so kompleks is. Afknouery/boeliegedrag is skadelike of aggressiewe gedrag wat op ’n aanhoudende en deurlopende wyse plaasvind en spesifiek gerig word op ’n leerder met minder gesag en selfvertroue as die aanvaller (Bräsler, 2018:8).

Boeliegedrag kan ook ernstige emosionele en fisiese skade aan kinders rig. Met die verskriklike toename in die gebruik van selfone en ander tegnologiese toestelle raak dit ook al hoe moeiliker vir onderwysers en skole om kuberafknouery te moniteer terwyl hulle steeds daagliks ander tipe vorme van afknouery moet bekamp, soos byvoorbeeld fisiese of verbale afknouery.

Skoolklimaat

Studies oor skoolklimaat dui op die etos of gees van die organisasie. Die skoolklimaat dui die manier aan waarop leerders en onderwysers die atmosfeer in die skool ervaar – en dit het ’n deurslaggewende invloed op sowel prestasie as motivering van onderwysers en leerders.

Volgens Owens (2001:140) word skoolklimaat deur vier dimensies beïnvloed, naamlik organisasie, milieu, ekologie en kultuur. “Hierdie vier dimensies vorm deel van die dinamiese taak van die skoolhoof en bestuurspan om ’n effektiewe skoolklimaat, bevorderlik vir hoë  onderwysersmoraal, te vestig.”

(Minne, 2015:26) Kultuur is die weerspieëling van die skoolklimaat – die manier waarop onderwysers en leerders kommunikeer en sodoende die atmosfeer van die skool reflekteer; die waarde- en normesisteme onderliggend aan die kultuur van die skool; asook tradisies, gedragspatrone, helde en heldinne, stories en mites wat gevestig is.

Skoolkultuur

Die skoolkultuur is die etos van die skool en reflekteer gemeenskaplike norme, simbole en tradisies. Dit dui ook die wyses waarop sekere dinge gedoen word aan en verskil van skool tot skool. Skoolkultuur is die historiese patroon van betekenis wat geloof, waardes, norme, tradisies, rituele, mites en seremonies insluit en die wyse waarop dit verstaan word (Van Deventer en Kruger, 2003:25 in Minne, 2015:27).

Skoolkultuur is inherent deel van die skoolklimaat waarin effektiewe onderrig kan plaasvind en ’n skoolomgewing waarin onderwysers werksbevrediging kan ervaar.

’n Positiewe skoolkultuur en -klimaat lei tot verbetering in leerderprestasie en skep ook ’n gevoel dat hulle iewers behoort. Leerders het ’n behoefte aan doeltreffende en bekostigbare maniere om skoolprestasies ’n hupstoot te gee. Belangrike faktore in ’n positiewe skoolkultuur kan ook beduidende bemiddelaars van akademiese leerprosesse wees, soos onder meer bemagtiging, betrokkenheid, motivering en selfdoeltreffendheid.

’n Positiewe skoolkultuur in die lang termyn waarby leerders, onderwysers en ouers betrek word is noodsaaklik om leerderprestasies in ’n produktiewe en veilige akademiese omgewing te verseker.

Wêrelddag vir boelievoorkoming vind elke jaar binne die eerste week van Oktober plaas, maar dit is nie nodig om tot Oktober te wag om afknouery te voorkom nie. Dit is dus belangrik om ’n positiewe en ondersteunende klimaat en kultuur in die skool te skep, want dit is die effektiefste manier om afknouery te voorkom omdat dit proaktief is.

Daar is drie sleutelfaktore wat nodig is om ’n skoolkultuur te skep wat nie net afknouery (boeliegedrag) voorkom nie, maar wat ook die beste in leerders na vore sal bring:

  1. Onderwysers moet die idee dat hulle ’n fundamentele verantwoordelikheid teenoor elke leerder het koester deur vir hulle om te gee, asook om in hulle leerders te glo

Een manier om afknouery te voorkom is deur ’n skoolklimaat te skep waar waardes soos omgee, respek, integriteit, verantwoordelikheid en eerlikheid beklemtoon word. Dit kan begin deur die wyse hoe volwassenes (onderwysers) teenoor mekaar optree, asook hoe hulle teenoor die leerders optree. Wanneer leerders sien dat hulle onderwysers in hulle glo, sal daar ’n rimpeleffek wees en hulle sal ook in hulself begin glo en hulle portuurgroep aanmoedig in plaas daarvan om hulle af te knou/te boelie.

Salome Thomas-El, ’n hoof aan die Thomas Edison Charter School in Wilmington in die VSA, het bekendheid verwerf deur ’n groep sukkelende leerders te motiveer om die volgende nasionale skaakkampioene te word en hy het gesê dat elke kind dit verdien om iemand te hê wat mal is oor hulle en wat in hulle glo. Leerders moet dus weet wat hulle waarde en potensiaal is en onderwysers kan hulle juis daarmee help om daardie dinge raak te sien. Dit vereis dus van personeel om die regte hoë standaarde en waardes te handhaaf en dit kan wondere verrig vir ’n leerder se selfvertroue en gedrag.

  1. Sosiale en emosionele vaardigheidsontwikkeling moet geïntegreer word binne die kernmissie van die skool

’n Tweede sleutelfaktor om afknouery te voorkom sodat ’n positiewe skoolkultuur geskep kan word is om sosiale en emosionele vaardigheidsontwikkeling te integreer. Daar was ’n intense fokus op die prestasie op akademiese vlak oor die laaste paar jare, maar baie skole en gemeenskappe regoor die wêreld het tot die besef gekom dat dit belangrik is om leerders van sosiale en emosionele vaardighede te leer.

Om doelbewus vaardighede vir leerders te leer soos empatie, emosionele regulasie, doelwitstellings, samewerking, verantwoordelikheid en spanwerk is net so belangrik in die ontwikkeling van leerders soos om leerders akademiese vakke te leer. Om leerders hierdie emosionele en lewensvaardighede te leer sal hulle juis help om nie ander af te knou nie en dit maak hulle meer voorbereid vir universiteit of vir hulle loopbane in die toekoms.

Denemarke is volgens ’n VN-verslag vir Wêreldgelukkigheid (Engels: World Happiness Report) al vir sewe opeenvolgende jare onder die topdrie gelukkigste lande in die wêreld en een van die redes hiervoor is dat die onderrig in empatie al sedert 1993 verpligtend is vir alle skole. Empatie help met die bou van verhoudings, dit verhoed afknouery (boeliegedrag) en die leerders presteer sowel by die skool as ná skool. Dit bevorder die groei in leierskap, entrepreneurs en bestuurders. Empatiese tieners is geneig om ook meer suksesvol te wees, want hulle is meer georiënteerd om te streef na doelwitte. ’n Uur per week word spandeer aan empatielesse waar leerders hulle probleme met mekaar deel (skoolverwant of nie-skoolverwant) en dan moet almal in die klas probeer om oplossings te bied. Dit leer die kinders om regtig te luister, asook om te verstaan.

Empatie is nie net nodig om deel te vorm van ’n kurrikulum nie, maar dit is ook nodig om deel te vorm van elke skool se kultuur sodat boeliegedrag/afknouery voorkom kan word.

  1. Leierskapsverantwoordelikhede moet gedeel word onder personeel en leerders

Die finale faktor om afknouery te verhoed in ’n positiewe skoolkultuur is gedeelde leierskapsverantwoordelikhede. Een van die mees basiese strategieë wat skole aangemoedig word om na te streef is om vir sowel onderwysers as leerders die geleentheid te gee om eienaarskap oor iets te hê of om leiding te neem met sekere aspekte in skoolverband. Wanneer gedeelde leierskap aangemoedig, ondersteun en beloon word, sal billike en innemende skoolklimate van ’n hoë standaard as norm vir Suid-Afrikaanse skole bewerkstellig word.

Gedeelde leierskap vind plaas wanneer onderwysers, ouers, voogde en leerders saamwerk om probleme op te los. Dit is eintlik vanselfsprekend om saam te werk en ’n innemende skoolklimaat en kultuur te skep wat leerderonderrig versnel. Waar gedeelde leierskap bestaan – dit wil sê waar jongmense (leerders) en volwassenes (onderwysers en ouers of voogde) saamwerk – bestaan daar ’n leerdergefokusde skool.

Gedeelde leierskap beteken om ’n skuif te maak van die formele leierskapsmodel tot ’n gedeelde leierskapsmodel wat gevolglik tot gedeelde mag en besluitneming tussen leerders, ouers, voogde en onderwysers lei wanneer boeliekwessies kop uitsteek. In plaas van ’n enkele persoon wat leiding neem om sukses te behaal, word ander individue wat vennote of groeplede is ook uitgenooi om die verantwoordelikheid vir leierskap en ontwikkeling van ’n positiewe skoolklimaat en -kultuur te deel.

Bronne:

Bräsler, L. 2018. AfriForum Teenboeliegids: ’n Leier se Gids om Afknouery in Skole Hok te Slaan. Beskikbaar by: https://www.afriforum.co.za/wp-content/uploads/2019/06/Teenboeliegids.pdf. (Toegang 27 November 2019).

Minne, Y. 2015. Skoolhoofde en die skep van skoolklimaat bevorderlik vir hoë onderwys moraal. Fakulteit van Opvoedkunde. Departement Onderwysbestuur en Beleid. Pretoria: Universiteit van Pretoria.

Owens, R.G. 2001. Organizational behaviour in education: Instructional leadership and school reform. 7th Ed. Boston: Allyn and Bacon.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN