--> -->
Spyskaart +

Voetslaan vir jou taal

Junie 13, 2019 deur Alana Bailey

AfriForum doen dikwels ’n beroep op Afrikaanssprekendes om iets vir hul taal te doen – ’n petisie te teken, regsaksies te ondersteun, Afrikaanse produkte te koop of hulle kinders in Afrikaanse skole in te skryf – om maar enkele voorbeelde te noem.

Vir mense wat vol energie is en hulle meer aktief vir ons moedertaal wil beywer, is daar selfs nog meer opsies.

Vir enkele jare het die Afrikaanse Taalraad padwedlope geborg. In Centurion kon jy aan ’n wedloop deelneem met allerlei lekker spreekwoorde langs die roete. In die Wes-Kaap was daar op ’n keer ’n wedloop deur die wingerde waar deelnemers ’n gunstelingwoord in plaas van ’n nommer gedra het.

Nog meer inspirerend is die Baske se Korrika, ’n tweejaarlikse afloswedloop met die uitsluitlike doel om die Baskiese taal te bevorder.

Die Baske is ’n inheemse groep wat ’n streek in Spanje bewoon wat strek van die westelike punt van die Pireneëbergreeks aan die baai van Biskaje, dwarsoor noord-sentrale Spanje en die suidweste van Frankryk. Sowat 2,4 miljoen Baske is in Spanje woonagtig en 240 000 in Frankryk.

Hulle taal, Baskies, staan ook as Euskara bekend en hulle noem hul land Euskal Herria, wat “land van die Baskiese taal” beteken, of te wel Baskeland. Baskies is ’n baie ou taal wat nie soos die meeste Europese tale van Indo-Germaanse oorsprong is nie. Soms word daar beweer dat dit die oudste taal in Europa is, maar dit is dalk ’n bietjie oordrewe. Die stereotipering daarvan as so ’n “oorspronklike” taal bewys net hoe sterk die sprekers daaroor voel en hoe trots hulle daarop is.  Sowat 30% van die mense in die genoemde streek praat nog Baskies as huistaal, maar hulle is gewoonlik ook vlot in Spaans en/of Frans. Hulle het dus waardering vir veeltaligheid. Deur die eeue heen is hul taal al deur sowel Spaanse as Franse regerings onderdruk, maar tog het dit lewendig gebly en ontwikkel dit steeds. Unesco klassifiseer dit wel as ’n bedreigde taal.

Weens die onderdrukking daarvan deur die regime van generaal Franco in Spanje (1936 tot 1975) het die taal groot skade gely. Dit is destyds in skole verbied en kinders wat dit in klasse of op die speelgrond gepraat het, is swaar gestraf. Die polisie kon ook volwasse Baske kortvat wat die taal in die openbaar gebruik het. Mense het dikwels onder geweld deurgeloop as hulle hul moedertaal gebruik het. Die verskoning was dat die gebruik daarvan modernisering in Spanje benadeel. Ná Franco tot ’n val gekom het, het pogings begin om die taal in ere te herstel en weer uit te bou. ’n Organisasie met die naam AEK beywer hulle daarvoor om volwassenes Baskies te leer met die doel dat die taal nóg sterker in Baskeland herleef.  Dit word ook weer in skole gebruik.

Elke twee jaar reël die AEK ’n aflospadwedloop met die naam Korrika. Dit is ’n Baskiese woord wat “hardloop” beteken. Die doel van dié wedloop is om die gebruik van Baskies te bevorder en die Baskiese identiteit te vier. In 2021 sal dit vir die 22ste keer aangebied word. Komitees van vrywilligers in alle dorpe en stede waardeur die roete in Baskeland strek, sorg vir die aanbied daarvan.

Dit is die moeder van alle aflosse, wat sonder ophou, dag én nag, oor elf dae voortgesit word.  ’n Nuwe roete word elke keer gevolg en daar word gepoog om soveel van Baskeland as moontlik te bereik. In totaal kan dit van 2 000 tot meer as 2 500 kilometer strek. Ongeveer 600 000 mense neem oor die verloop van die dae daaraan deel. Elke jaar het dit ook ’n nuwe tema. In 2019 was dit “Klik”, wat verwys na die besluit om die taal aan te leer.

Die deelnemers dra ’n aflosstok wat deur ’n bekende Baskiese kunstenaar ontwerp is en met die Baskiese vlag versier is.  Dit bevat ’n geheime boodskap wat eers aan die einde van die wedloop bekendgemaak word.

’n Deel van 2019 se boodskap lui:

Klik beteken verbintenis. Klik is ’n keuse wat jy uitoefen.

Klik op Baskies. Klik om dit te leer, te gebruik, om die stap te neem.

Klik op gemeenskap, op taal, op kultuur.

Klik op die toekoms, ’n nuwe era, op Baskeland.

Klik op my, op jou, op ons almal.

Klik op die soet smaak van Baskies, ikimilikiliklik!

Klik op musiek, dans in Baskies …

Klik om dit te koester, om dit te help groei, om jouself te verbind.

Klik op ons opsie. Klik, AEK. Klik Korrika.

[Sien http://www.korrika.eus/component/tags/tag/2]

Oud en jonk, gestremd en gesond, klubs, sportspanne, vriendekringe, skole, enkellopendes – almal is welkom om aan Korrika deel te neem. Hulle hoef uiteraard ook nie al elf dae betrokke te wees nie, maar kan so ver saamdraf as wat hulle wil of kan.

Korrika bied verder ook ’n wonderlike fondsinsamelingsgeleentheid vir die AEK – besighede en individue word genooi om elke kilometer van die wedloop te borg en die opbrengs word dan vir die befondsing van volwasse-onderwys in die Baskiese taal aangewend. Korrika-winkels verkoop handelware met die wedloop se handelsmerk op, en só word nog meer fondse verkry.

Ná 21 suksesvolle Korrika-wedlope is dit gevestig as een van die grootste openbare demonstrasies ten gunste van ’n spesifieke taal in die wêreld.

Die wedloop gryp Baske se verbeelding só aan dat buitelandse gemeenskappe wat aan Baskiese klubs behoort soms selfs gelyklopende byeenkomste in hul omgewings aanbied.

Ander taalgroepe, insluitend die Katalane, Galisiërs, Walliesers en Iere het intussen besluit om soortgelyke byeenkomste aan te pak.

Dalk kan Afrikaans ook eendag met ’n gevestigde padwedloop van ons eie spog. Hoe lyk dit, AfriForum-lede?