| | |

Voedselverspreiding: Taakspan sal voortgaan om honger te help stil

Die COVID-19-taakspan, wat uit AfriForum, Saai en Solidariteit Helpende Hand bestaan, sal voortgaan om voedsel te versprei ongeag die regering se diktatoriale pogings om voedselskenkings en die verspreiding daarvan te beheer. Die taakspan is sterk gekant teen riglyne wat die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling vir die verspreiding van voedsel bekend gemaak het en is van mening dat die beheer en sentralisering van voedselpakkies die verspreidingsproses beduidend vertraag en gesinne wat hierdie voedsel broodnodig het van kos sal weerhou.

Solidariteit Helpende Hand, wat die gesinne identifiseer aan wie die taakspan voedsel versprei, gaan ook nie voedselsentralisering of die regulering van voedselskenkings aanvaar nie en sal voortgaan om voedsel aan mense in nood te versprei.

Laeveld Agrochem het reeds 210 000 voedsame Genesis-kitsmaaltye aan die taakspan geskenk. Die taakspan kon vandag danksy dié skenking meer as 100 000 voedsame kitsmaaltye in die suidelike en sentrale dele van die land versprei. AfriForum het ook vandag 6 480 maaltye vir hulpbehoewendes verpak.

“Die regering se besluit om voedselverspreiding te sentraliseer en te reguleer, is irrasioneel en onmenslik. Hierdie regulasies gaan veroorsaak dat mense honger ly en dat hul nood nie dadelik verlig kan word nie. Ons gaan voort om voedsel in samewerking met Saai en Solidariteit Helpende Hand te versprei,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof vir Gemeenskapsveiligheid.

“Ons gaan nie toelaat dat skenkings wat aan ons toevertrou is deur die regering gereguleer word nie. Dié regulasies gaan verhoed dat gesonde maaltye by mense uitkom wat dit werklik nodig het. Ons gaan voort om honger mense in nood te help,” sê Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai.

Die publiek kan skenkings aan die Solidariteit Beweging se noodfonds maak om hierdie projek te ondersteun:

Rekeninghouer:        Solidariteit Helpende Hand
Bank:                          FNB
Rekeningnommer:    62 331 445 503
Tak:                            Centurion (takkode 250 655)
Verwysing:                Korona
Swift-kode:                FIRN ZA JJ

Soortgelyke plasings