|

VN-forum vir minderheidsregte sê eentaligheid nie noodwendig die oplossing vir integrasie nie

Sowat 40% van die wêreld se tale is onder druk. As ’n taal verdwyn, gaan die hele kennisskat wat dit insluit, daarmee saam verlore en so ook die kultuur van die sprekers.

Met dié woorde het Michelle Bachelet, die Verenigde Nasies (VN) se hoë kommissaris van menseregte, vanjaar die 12de sitting van die VN se Forum vir Minderheidsaangeleenthede in Genève, Switserland, geopen.

Sowat 600 amptenare, burgerregte- en nieregeringsorganisasies van regoor die wêreld het onlangs  tydens die sitting van dié forum – wat oor twee dae strek – oor onderwys, taal en die menseregte van minderhede gepraat.

“Mense moet die reg hê om hulle taal te praat en kultuur uit te leef waar hulle ook al mag wees en dis net ten volle moontlik as jy ook in jou taal skoolgaan,” het Bachelet tydens haar opening bygevoeg.

Lamberto Zannier, die hoë kommissaris van nasionale minderhede van die OSCE (The Organisation for Security and Co-operation in Europe) het tydens sy spreekbeurt gesê dat gebalanseerde meertaligheid nodig is om stabiliteit te behou en dat integrasie nooit deur die gebruik van slegs een taal kan geskied nie.

Fernand de Varennes, die VN se spesiale rapporteur vir minderhede, het gesê die grootste manier waarop jy die sprekers van ’n taal kan uitsluit, is deur nie onderrig in die taal aan te bied nie. “Taal is mag, taal is identiteit, taal is geleenthede, taal is wie ons is. Taal is alles.”

Hy het voorts gesê dat taalregte óók menseregte is. “Deur minderheidstale te bemagtig, skep jy begrip en respek en skakel jy rassisme en onverdraagsaamheid uit.”

Tove Skutnabb-Kangas, ’n Finse taalkundige wat bekend is vir die skepping van die term “linguisisme” (taaldiskriminasie), het tydens haar spreekbeurt beklemtoon hoe politieke wil by regerings ontbreek om taalregte te erken.

Sy meen alle kennis en navorsing bestaan om die noodsaaklikheid van die toepassing van taalregte te bewys, maar almal hersirkuleer net die kennis by konferensie ná konferensie omdat die regerings nie ruimte skep om die beste praktyke toe te pas nie.

Sy het ook daarop gewys dat wanneer kinders gedwing word om in ’n koloniale taal soos Engels te leer, dit ’n neo-koloniale bewussyn by hulle skep en lei tot radikalisering, soos daar die afgelope paar jaar by Suid-Afrikaanse universiteite gesien is.

Aleksandr Kuzmin, ’n verteenwoordiger van Latvia, het gesê skole wat moedertaalonderrig bied moet gekoester word as kulturele erfenis. “Om jou taal te kan koester, moet jy lewende rolmodelle sien wat dit oral in die gemeenskap gebruik.”

Kuzmin is ook van mening dat vryheid van keuse, binne die konteks van taal en taalregte, die teenoorgestelde van segregasie is.

Prof. Kathleen Heugh, ’n Suid-Afrikaner wat tans medeprofessor in toegepaste linguistiek by die Universiteit van Suid-Australië is, het gepraat oor taal se rol as ’n sosiale draer. Heug is ’n deskundige in postapartheid-taalbeleid in Suid-Afrika en het regerings in meer as 30 lande geadviseer oor die rol van moedertaal, minderheidstale en veeltalige onderwys. “Met die gebruik van elke nuwe taal, verdiep jou menslike ervaring,” het sy tydens haar spreekbeurt gesê.

Verteenwoordigers van minderheidsgroepe en nieregeringsorganisasies het ook verskeie uitdagings en miskennings van hul taalregte in die kollig geplaas.

Verskeie minderheidsgroepe van Sirië, waaronder die Yazidi en Koerde, het dié land se regering daarvan beskuldig  dat hulle geen grondwetlike regte in die land het nie. Die Yazidi maak 2% van die land se totale bevolking uit, maar hulle word gedwing om hulle tot Islam te bekeer, terwyl die Koerde se skole in barakke vir soldate omskep word.

Baie verteenwoordigers van onder meer die Turkse Moslems van Thrace in Griekeland, Roma in Europa, Uyghers in Kazhakstan en Hongare in Roemenië, het gekla oor die gebrek aan handboeke wat in hul moedertale beskikbaar is, of wat te laat in die skooljaar afgelewer word.

Party minderheidsgroepe het gesê dat hulle gemeenskappe selfs met die dood gedreig word indien hulle hul eie taal wil gebruik. In lande soos Iran word die Ahwaz-gemeenskap tereggestel omdat hulle taalregte eis en in Krim word mense wat Oekraïens en Tartaars praat, dikwels aangeval en selfs vermoor.

Verder word baie tale verban, nie net as onderrigtaal nie, maar ook as kommunikasietaal in die openbaar.

In haar voorlegging het Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake, kommer uitgespreek oor die feit dat die Grondwet se sogenaamde beskerming van minderheidstale in Suid-Afrika, weens ’n gebrek aan politieke wil, nie geskied nie. Sy het ook genoem dat wanneer howe oor die taalregte van nie-Engelssprekende Suid-Afrikaners moet beslis, uitsprake oorwegend ten gunste van eentalige Engelse taalbeleide is, met argumente van bekostigbaarheid en sosiale samehorigheid.

’n Ongeïdentifiseerde verteenwoordiger van die Suid-Afrikaanse regering het egter met ’n aanval op dié voorlegging gereageer, wat Bailey as ’n growwe misleiding beskou het.

“Verskeie van die teenwoordige taaldeskundiges op die VN se paneel ken gelukkig die feite en neem kennis van die ooglopende poging om die regering se taalregteskendings te verdoesel. Indien AfriForum nog ’n geleentheid vir verdere insette gegee word, sal dit ook onder die meer as driehonderd ander internasionale afgevaardigdes se aandag gebring word,” het sy gesê.

Volgens Bailey ondersoek die VN-byeenkoms ook beste praktyke, byvoorbeeld in die opstel van beleid om taalregte te bevorder. “In dié verband het AfriForum in die veertien jaar van sy bestaan al waardevolle ervaring opgedoen wat hulle met die internasionale gemeenskap kan deel. Die forum bied verder die geleentheid om ook uit ander taalgroepe se ondervinding te leer. Deur ons saak by hierdie VN-forum in die kollig te plaas, hoop AfriForum om toenemende druk op die regering toe te pas om die regte van Afrikaanssprekendes te erken en te respekteer – in die openbare en privaatsektor.”

*Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake en Carien Bloem, bestuurder van AfriForum Onderwys by die VN.

Soortgelyke plasings