|

Vierde industriële rewolusie gaan ook impak op gebruik van taal hê

Klaus Schwab, stigter van die Wêreld Ekonomiese Forum (WEF), het onlangs in Davos, Switserland, tereg opgemerk dat een van die heel grootste uitdagings van vandag die begrip van die vierde tegnologiese rewolusie is.

Dié ingewikkelde kwessie en die impak van taal daarop is vandag tydens ’n seminaar in Pretoria belig. Dit is deur die Solidariteit Navorsingsinstituut, die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en die ATKV aangebied.

Dr. Juran van den Heever, uitvoerende hoof van S-leer by die Solidariteit Beweging, meen die vierde industriële rewolusie is ’n ontwrigtende era wat baie mense nog nie verstaan nie. Wat wel ’n gegewe is, is dat die wêreld en die wêreld van werk in vele opsigte drasties gaan verander met ’n toename in outomatisasie, robotte en masjinerie wat daarop gemik gaan wees om mense se werk makliker te maak. “Daar word al hoe meer gepraat oor die ‘internet van dinge’. Die veranderinge wat besig is om te gebeur en nog gaan kom, gaan ’n groot impak op die fisiese, digitale en biologiese aspekte van mense hê. Dit gaan tot gevolg hê dat kliënte se behoeftes toenemend gaan verander en besigheidmodelle hierby aangepas sal moet word.”

Daarom is dit nie meer so skrikwekkend om te dink dat mense van selfaangedrewe vervoer gebruik sal maak nie en dat siektetoestande nie meer op tradisionele maniere geïdentifiseer sal word nie.

Van den Heever meen egter taal kan in hierdie veranderende tegnologiese wêreld wel ’n belangrike rol speel om mense saam te bind en deel van ’n gemeenskap of kultuurgroep te laat voel. “Jongmense is almal op selfone en sosiale platforms, maar hulle voel dikwels alleen. Taal kan in die toekoms ingespan word om hulle te laat voel dat hulle iewers behoort.”

Hy het gesê navorsing dui daarop dat 375 miljoen mense se beroepskategorieë teen 2030 kan verander. “Wat belangrik is om te onthou, is dat mense steeds kritiese vaardighede soos probleemoplossing, kritiese denke, kreatiwiteit, buigsaamheid en diensbaarheid nodig sal hê om te oorleef.”

Pieter Geldenhuys, ’n Suid-Afrikaanse toekomskundige en direkteur van die Instituut vir Tegnologie, Strategie en Innovasie, het via ’n video-opname verwys na die Kondratieff-golwe wat dui op ’n langtermyn ekonomiese siklus wat gebore is uit tegnologiese innovasie. Die eerste “golf” was water waaruit die tekstielbedryf gespruit het, gevolg deur stoom, elektrisiteit en enjins en ’n ontploffing in elektronika. Die wêreld is nou in die winter van die vyfde golf. Die wêreld van elektronika en die internet gaan ’n totaal nuwe dimensie inneem. Dit gaan hoofsaaklik handel oor koppelinge met rekenaars en om baie vinniger besigheid te doen. Die wêreld van intelligente luidsprekers en virtuele en verrykte realiteit gaan oopgemaak word. ’n Heeltemal nuwe wêreld van tegnologie gaan ontsluit word wat ook grense tussen mense gaan afbreek.

Prof. Eleanor Cornelius, verbonde aan die Universiteit van Johannesburg (UJ) se departement tale, kultuurstudie en toegepaste linguistiek, het oor die impak van die vierde rewolusie op vertaling en tolking gepraat. Sy meen universiteite sal taalpraktisyns en vertalers op ’n totaal nuwe manier moet oplei om in die lig van masjienvertaling nog relevant te bly.

Masjienvertaling het reeds ’n impak op die beroep van vertalers, die omvang van hul werk asook die tariewe wat hulle kan hef. “Die oorwig van vertaalwerk word steeds deur menslike vertalers gedoen wat hoogs gekwalifiseerd is. Maar namate masjienvertaling gaan verbeter en toeneem, sal hul werk moontlik ook afneem. Vertalers en tolke se beroepe sal waarskynlik in gedrang kom wanneer masjienvertaling menslike intelligensie ewenaar en verbysteek,” sê Cornelius.

Sy meen egter masjienvertaling is mank aan die intuïsie en verbeelding wat mense het. En solank vertalers en taalpraktisyns relevant bly, verbeterde masjienvertaling ook omarm en nie gereduseer word tot redigeerders van swak masjienvertaling nie, sal hulle werk hê.

Cornelius meen wel dat die tradisionele beeld van die vertaler sal verander. Daar sal in die toekoms meer van ’n spanbenadering wees en hulle sal meer hulpmiddels tot hul beskikking gebruik.

 

 

Soortgelyke plasings