|

Vier Afrikaans as amptelike taal op 8 Mei

Eerskomende Woensdag (8 Mei) is nie net belangrik omdat Suid-Afrikaners in hul miljoene na die stembus sal stroom om hul kruisie in die nasionale verkiesing vir 2019 te trek nie. Dit is ook ’n belangrike dag vir die 6,8 miljoen Afrikaanssprekendes in die land.

Die grondwet van 1909 het bepaal dat Nederlands en Engels die amptelike tale van die land was. Op 8 Mei 1925 is Afrikaans aan Nederlands gelykgestel en is Afrikaans, naas Engels, as amptelike taal erken. Vandag word Afrikaans (13,5%), naas Zoeloe (23%) en Xhosa (16%), die meeste in die land gepraat.

Die geskiedenis van Afrikaans het egter veel vroeër as 1925 begin. Op 14 Augustus 1875 is die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) in die Paarl gestig onder leiding van ds. S.J. du Toit. Hierdie gebeurtenis word as ‘n mylpaal beskou in die geskiedenis van die taal en as die begin van die Eerste Afrikaanse Taalbeweging. Die doel van hierdie organisasie was om die mense daarvan bewus te maak dat hulle ‘n eie taal het wat Afrikaans genoem word.

Die totstandkoming van Afrikaans is nie net ’n verhaal oor taal nie, maar ook een van ’n volk met ’n eie kultuur. En soos dit maar in die geskiedenis van alle volkere en tale gaan, was daar wanhopige tye, terugslae, probleme, diskriminasie, twiste, hartseer en verliese. Afrikaans het egter ook ’n wonderlike geskiedenis van jare van opbloei, groei, ontwikkeling, vestiging, baanbrekerswerk en talle eerstes soos die eerste Afrikaanse koerant, die eerste Afrikaanse gedig, die eerste Afrikaanse roman en die vertaling van die Bybel in Afrikaans in 1933.

Afrikaans het uiteindelik tot ’n volwaardige taal tot op die hoogste vlak ontwikkel wat die sprekers daarvan met trots vul. Die aftakeling daarvan in die afgelope jare het tot groot paniek gelei, maar soos wat die geskiedenis weer leer, is daar altyd pioniers wat met vernuwende denke na vore kom om die verdwyning van die taal te beveg en teen te staan.

As jy Afrikaans vanjaar wil vier, of bloot in die geskiedenis van die taal belangstel, is dit die moeite werd om die boek van prof. J.C. Steyn, Ons gaan ’n taal maak:  Afrikaans sedert die Patriot-jare, aan te skaf. Dit kos R450 en is by www.kraaluitgewers.co.za beskikbaar.

Wanneer jy eerskomende Woensdag dalk ’n uur of twee voor een van die stemlokale regoor die land moet staan en wag om jou kruisie te trek, gaan dit ook die ideale tyd wees om jou taal te vier deur ’n Afrikaanse boek, tydskrif of koerant te lees om die tyd te verwyl.

Soortgelyke plasings