|

Video’s: Sol-Tech help jou droomberoep waarmaak

Sol-Tech, die privaat beroepsopleidingskollege van Solidariteit, het onlangs ’n reeks kort, insiggewende ambagsvideo’s bekendgestel oor al die instansie se kwalifikasies.

Sol-Tech bied opleiding in ’n verskeidenheid beroepskwalifikasies, insluitend elektrisiën, meulmaker, passer-en-draaier, dieselwerktuigkundige, gereedskapmaker, trekkerwerktuigkundige en sweiser, met ambagsopleiding as kern.

Dié opleidingskollege het verlede jaar sy tiende bestaansjaar gevier en vandag is daar deurlopend sowat 1 500 studente in opleiding of met prakties besig.

Onlangse navorsing toon dat 94,7 %  van Sol-Tech se afgestudeerdes binne die eerste ses maande in ʼn vaste werk aangestel word – teen ’n gemiddelde salaris van R22 000 per maand. Ongeveer 55,7% werk by die maatskappye waar hulle hul werkplekgeïntegreerde opleiding voltooi het, en 56,7% van hierdie groep het onmiddellik nadat hul opleiding voltooi is, permanente aanstellings gekry.

Elke video, wat op Sol-Tech se Youtube-kanaal beskikbaar is (https://www.youtube.com/channel/UC1E3lLViKfC6NgDztvTlnDw), vertel meer oor die teoretiese vakinhoud van elke kwalifikasie, oor watter vaardighede die student moet beskik, die toerusting wat hulle gebruik, die dag-tot-dag werksaamhede binne die beroep en ook die beroepsmoontlikhede wat met die verwerwing van die kwalifikasie ontsluit word.

Die verskillende kwalifikasies wat Sol-Tech aanbied is soos volg:

  • Meulmaker: ’n Meulmaker werk met meganiese stelsels en prosesse met betrekking tot laers, ratkaste, remstelsels, pompstelsels, aandrywings, asbelyning, pneumatika en hidroulika.
  • Dieselwerktuigkundige: ’n Dieselwerktuigkundige werk met die instandhouding, diens en herstel van enjins, ratkaste, ewenaars, wielsporing, hidrouliese stelsels, remstelsels, laers, stuurstelsels en outo-elektriese bedradingstelsels in voertuie.
  • Sweiser: Sweisers werk vanaf bloudrukke of spesifikasies en gebruik hulle kennis van metale en las-tegnieke om verskeie tipes metaal aan mekaar te sweis.
  • Trekkerwerktuigkundige: ’n Trekkerwerktuigkundige is onder meer verantwoordelik vir die instandhouding en herstel van trekkers deur middel van gespesialiseerde vaardighede wat die opsporing en diagnose van probleme insluit.
  • Elektrisiën: Elektrisiëns installeer, onderhou en herstel elektriese krag– , beligting-, en beheersisteme asook infrastruktuur in huise, besighede en fabrieke.
  • Gereedskapmaker: Gereedskapmakers vervaardig onder andere presisie gereedskap en werk met metale, allooie en materiale om gietstukke en gietvorms te ontwerp en te vervaardig.
  • Passer en draaier: Pas en draai handel oor gevorderde handvaardighede asook stelsels en vervaardigingsprosesse met betrekking tot die gebruik van draaibanke, frees-, slyp- en boormasjiene.

Vanaf 2019 gaan Sol-Tech ook vir die eerste keer ’n oorbruggingsprogram vir toelating tot ambagsopleiding by die kollege aanbied in Bethlehem, Naboomspruit, Wolmaransstad, Klerksdorp en Worcester. Deur hierdie toevoeging hoop Sol-Tech om ambagsopleiding vir meer jongmense, ook in die platteland, toeganklik te maak.

Vir meer inligting oor Sol-Tech en die oorbruggingsprogram, besoek hul webblad by www.sol-tech.co.za.

Soortgelyke plasings