|

Video: Vullisterrein-hofsaak reuseoorwinning vir AfriForum

AfriForum se Naboomspruit-tak het vandag in die Noord-Gautengse hoë hof ʼn hofsaak rakende die swak wyse waarop die Naboomspruit-vullisterrein bestuur word teen Lim 368 Plaaslike Munisipaliteit met koste gewen.

AfriForum het die hof reeds in 2016 genader nadat talle klagtes deur die inwoners van Naboomspruit ontvang is oor die swak bestuur en die swak toestand van die vullisterrein wat nie aan die lisensiepermitvereistes voldoen nie en wat lei tot die besoedeling van grondwater. Die hofsaak het op 10 Oktober 2017 plaasgevind waar die uitspraak voorbehoue was.

In die hofstukke eis AfriForum dat die munisipaliteit die vullisterrein op standaard moet bring soos vereis deur die lisensiepermit. Vandag se hofbeslissing stipuleer soos volg:

  • Alle vullis moet op ʼn omgewingsvriendelike wyse verwyder word.
  • Dreineringsisteme moet gebou word om afloopwater van die vullisterrein te skei en te herlei.
  • Binne vyf dae van die hofbevel, moet watertoetse by alle boorgate, strome en riviere gedoen word en na geakkrediteerde laboratoriums gestuur word vir ontleding.
  • Watertoetse van die loogwater moet op die vullisterrein self gedoen word en na ʼn geakkrediteerde laboratorium vir ontleding gestuur word.
  • ’n Operasionele plan wat verduidelik hoe rehabilitasie van die vullisterrein gaan geskied moet binne 60 dae opgestel word.
  • Goeie toegangsbeheer moet binne twee weke in plek gesit word, asook toepaslike kennisgewingborde by die vullisterrein soos deur die lisensiepermit uiteengesit.
  • Die vullisterrein moet binne een jaar omhein wees soos deur die lisensiepermit uiteengesit.

Soortgelyke plasings