|

(Video) Uitspraak in borgtogaansoek van Coligny-mans voorbehou

 

Regter Ronnie Hendricks het vandag in die hooggeregshof in Mmabatho uitspraak voorbehou in die borgtogaansoek van Pieter Doorewaard en Phillip Schutte van Coligny.

Dit kom nadat die mans, wat aan die moord op die tiener Matlhomola Moshoeu skuldig bevind is, vroeër spesiale verlof gekry het om direk by die appèlhof in Bloemfontein te kan appelleer teen hul skuldigbevinding.

Die mans se regspan onder leiding van adv. Barry Roux (SC) het die appèlhof suksesvol gepetisioneer om verlof tot appèl te kry nadat die hoë hof in Mmabatho in Maart vanjaar geweier het om verlof tot appèl in dié saak toe te staan.

AfriForum het besluit om Doorewaard en Schutte se appèlaansoek te befonds nadat Bonakele Pakisi, die enigste ooggetuie in die moordsaak, teenoor vier persone erken het dat hy in die hof gelieg het. Hy het getuig dat hy gesien het hoe Doorewaard en Schutte dié tiener vermoor.

Roux het vandag in die hof aangevoer dat die mans op borgtog vrygelaat moet word aangesien twee regters van die appèlhof aangedui het dat daar ’n redelike kans is dat die hof tot die beslissing kan kom dat Pakisi se getuienis nie op standaard is nie en dat die mans moontlik ontslag kan kry.

Hy het aangevoer dit is in die belang van geregtigheid dat die mans hangende die uitspraak op borgtog vrygelaat word.

Hy het voorts gesê daar is geen rede om te aanvaar dat die mans nie aan voorwaardes vir borgtog sal voldoen nie of ’n vlugrisiko is.

Die staat het aangevoer dat die mans skuldig bevind is op grond van Pakisi se getuienis.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê dit is onregverdig dat die mans in aanhouding bly terwyl daar genoegsame gronde is dat hulle onskuldig is en daar boonop ’n redelike kans is dat ’n hof hulle later onskuldig sal bevind.

Hy het ook daarop gewys dat die enigste getuie (Pakisi) aan verskeie partye meegedeel het dat hy gelieg het. “Dit is ’n miskenning van geregtigheid om die mans in die tronk te hou, terwyl die enigste getuie gelieg het.”

Soortgelyke plasings