|

Video: Tweede borgtogaansoek van vermeende Belfast-moordenaars binnekort aangehoor

Die tweede borgtogaansoek van die drie vermeende moordenaars van Sue Howarth sal op 19 Februarie, presies ’n jaar ná die wrede en brutale aanval op haar en haar man, in die landdroshof in Belfast in Mpumalanga aangehoor word.

Howarth (64) van Dullstroom is in Februarie 2017 in die Life MidMed-hospitaal in Middelburg oorlede nadat sy en haar man, Robert Lynn (66), op 19 Februarie 2017 op wrede wyse tydens ’n plaasaanval gemartel is.

Howarth en Lynn is vroeg die oggend op wreedaardige wyse gemartel en bebloed in die donker langs die pad afgelaai nadat drie mans hul in die vroeë oggendure op hul plaas oorval het. Howarth is geskiet en Lynn is etlike kere met ’n mes gesteek en met ’n blaasvlam gebrand. Hy het egter die aanval oorleef.

David Spohr, voorsitter van AfriForum se Belfast-tak, het destyds vertel dat Howarth “onherkenbaar” geslaan is en dat sy besig was om te versmoor toe sy gevind is.

’n Hooggeregshofdatum vir die saak is nog nie vasgestel nie. Die staat het tydens die beskuldigdes se hofverskyning vandeesweek gesê die polisie se ondersoekwerk is nog nie afgehandel nie.

Lede van die gemeenskap en vriende van die egpaar wat die hofverrigtinge bygewoon het, was uitermate geskok toe die landdros die volgende hofdatum vasgestel het op dieselfde dag as wat hulle ’n jaar gelede aangeval is.

Soortgelyke plasings